On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse beeldhouer wen prestige-kompetisie

───   HEIDRÈ MALGAS 14:41 Mon, 09 Sep 2024

Bloemfonteinse beeldhouer wen prestige-kompetisie  | News Article
Miné Kleynhans het die geleentheid vin ’n solo-uitstalling in die Pretoriase Kunsmuseum in 2025 gekry. Foto verskaf

“Ek hoop wanneer mense met die kuns in aanraking kom, hulle ’n eerlike oomblik met hulself kan hê.”

’n Projekbestuurder aan die Universiteit van die Vrystaat se kunsmuseum se installasie Meditations on Resentment het aan haar die eerste plek besorg in die Sasol New Signatures 2024-kunskompetisie.

Meer as duisend inskrywings is vanjaar ontvang, waarvan 137 skilderye, sketse, foto’s, beeldhouwerke, installasies en video’s gekeur is vir die finale uitstalling.

Miné Kleynhans vertel haar werk “beeld ’n intieme, persoonlike ritueel uit wat die ervaring en uitdrukking van wrok legitimeer”. Situasies en gesprekke waar sy agtergekom het mense sit met baie verwyte het dit geïnspireer.

Haar interaktiewe werk nooi kykers om deel te neem aan ’n ritueel met die geheime en onderdrukte emosie. Foto verskaf

“Dis ’n emosie wat mense nie altyd wil erken nie; dis ’n lelike en taboe-emosie. Ek wou mense die ruimte gee om met dié emosie te sit en daarmee te werk,” vertel sy.

Kleynhans is Woensdag (4/9) as wenner aangekondig en kry ’n kontantprys van R100 000 plus die geleentheid van ’n solo-uitstalling in die Pretoriase Kunsmuseum in 2025.

“Ek voel heeltemal oorweldig; dis ’n ongelooflike voorreg om te wen, maar ek begin ook besef dat dit ’n groot verantwoordelikheid is. Ek is vasbeslote om dit te laat werk.”


Haar interaktiewe werk nooi kykers om deel te neem aan ’n ritueel met die geheime en onderdrukte emosie deur die beperkings wat gewoonlik ’n mens se benadering tot wrok beheer, verbeeldingryk en tydelik op te hef.

Wanneer kykers die kunswerk nader, word hulle gekonfronteer met die blink, ingekeepte oppervlak van die werk, ’n kwas met ’n skerp punt, en ’n bakkie sand. Die ritueel vereis dat deelnemers voor die werk kniel en die sand op die ingekeepte oppervlak gooi.

‘Ek hoop mense sal ’n eerlike oomblik met hulself kan hê’

Hulle moet dan hul wrokke in die sand skryf met die skerp punt van die kwas, voordat hulle die sand wegvee en uit die naaste holte verwyder totdat die skerp, harde kern van ’n koperdoring onthul word.

Wat hoop sy om deur die werk te bereik? “Hoewel ek nie die kunswerk met die doel geskep het om terapeuties te wees nie, hoop ek wanneer mense met die kuns in aanraking kom, hulle ’n eerlike oomblik met hulself kan hê.”

Kleynhans is Woensdag (4/9) as wenner aangekondig. Sy kry ’n kontantprys van R100 000. Foto verskaf

Kunstenaars spits hulle dikwels toe op negatiewe emosies; dit beteken nie dat kunstenaars sukkel met swaarmoedigheid nie, maar dit is een van die komplekse dinge waarmee mense worstel. “Dit is ’n groot deel van mense se persoonlikheid en dit bepaal hoe hulle is, al besef hulle dit nie.”

Sy vertel haar onlangse werke is almal interaktief. Haar raad aan opkomende kunstenaars wat aan soortgelyke kompetisies wil deelneem, is om eerstens in te skryf. “Wees baie fyn, kyk wat jy kan doen om jou werk te verbeter, en maak seker dat jy gelukkig is met die gehalte van jou kunswerk wanneer jy dit inskryf.”

Pfunzo Sidogi, voorsitter van die Sasol New Signatures-kompetisie, het gesê: “Gedurende die vyf jaar wat ek as voorsitter van die kompetisie dien, was vanjaar se finale beoordeling waarskynlik die moeilikste. Onder meer is woorde soos ‘met subtiele oortuiging,’ ‘aangrypend,’ ‘tegnies virtuoos,’ ‘majesteitlike werk,’ ‘wonderlike tegniek,’ en ‘noukeurig gemodelleer’ deur die beoordelaars gebruik om die aard van die kunswerke in die wennerskring te beskryf.”

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.