On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Polisie moet nog besluit oor vervolgings ná lugskou-fiasko op Bethlehem

───   MORNÉ VAN ROOYEN 14:35 Sun, 08 Sep 2024

Polisie moet nog besluit oor vervolgings ná lugskou-fiasko op Bethlehem | News Article
Luidens onbevestigde berigte het motors ook Saterdag uitgebrand in PRO Parts se skootwerf in Welkom. Foto: Facebook

“Die probleem het ontstaan toe talle mense oraloor begin parkeer het, van wie baie in ’n gedeelte wat nie vooraf gebrand is nie. Ouens het gebraai toe die sterk wind oorwaai.”

Vrystaatse polisie sal eers ná ’n geregtelike ondersoek na die lugskoufiasko op Bethlehem besluit of enigiemand vervolg moet word vir die enorme skade.

’n Veldbrand het Saterdag (7/9) omstreeks 14:00 weens stormsterk wind blitsvinnig versprei deur ’n parkeergebied naby die Bethlehemse Lugskou en minstens 19 voertuie van toeskouers beskadig, waarvan nege heeltemal uitgebrand het, sê Vrystaatse polisiewoordvoerder kapt. Loraine Earle.

“Vir eers het die polisie met ’n geregtelike ondersoek begin om die oorsaak van die brand vas te stel,” sê Earle, “om te bepaal of enigiemand aanspreeklik gehou sal word.”

Volgens aanvanklike skattings het meer as 30 voertuie in die slag gebly. Die polisie sê 19 is beskadig. Foto: skermgreep

Dihlabeng-munisipaliteit, wie se brandweer volgens ooggetuies die ramp kon afgeweer het as hulle nie traag gereageer het nie, het Sondag gesê die lugskou, wat die eerste keer in vier jaar aangebied is, het al sy doelwitte bereik, waaronder: “vermaak, opvoeding, maatskaplike samehorigheid en ’n bydrae tot ekonomiese ontwikkeling”.

Kinders wou glo braai

“Die geleentheid het sonder voorval verloop en die toeskouers het die lugskouspel geniet en gekuier sonder enige voorvalle. Dis hoofsaaklik omdat die organiseerders noukeurig beplan het en verseker het dat voldoen word aan die strengste veiligheidsmaatreëls.”

Dihlabeng sê voorlopige ondersoeke dui daarop die brand het ontstaan op die grond oorkant die vliegveld wat as Gobbles-Foley bekendstaan en waar van die toeskouers parkeer het. Die brand het ontstaan toe kinders probeer braai het, sonder toesig en in ’n deel wat nie daarvoor toegewys was nie omdat dit nie behoorlike geriewe het nie.

Volgens die polisie is niemand beseer nie, maar Dihlabeng sê iemand het wel geringe brandwonde aan hul gesig en hande opgedoen.

Die polisie sê van die 19 voertuie wat gebrand het, is nege verwoes. Foto: Facebook

Sosialemediagebruikers bespiegel die sterk wind het kole van braaivleisvure aangewaai wat die droë gras laat vlam vat het. Die SA Nasionale Weermag, polisie en plaaslike boere het die vlamme help blus. Die vlamme het in ’n oogwink deur die droë gras versprei.

As dit so is dat braaivleisvure die brand laat onstaan het, “was dit waarskynlik deur ’n roekelose persoon ver van die lugskou af, buite die gebied onder die munisipaliteit se beheer”, meen wykskomiteelid Peter Muller. “Die wind het die brand vinnig laat sprei, en teen die tyd dat die brandweer opgedaag het, was dit reeds te laat. 

‘Die organiseerders het alles uitgehaal om te sorg die reëlings is perfek’

“Toe ek bewus word van die vuur, het ek dadelik die nooddienste by die lugskou laat weet en in sekondes het hulle gereageer.” Die skade is nie gely weens swak beplanning of die munisipaliteit of organiseerders se skuld nie, “maar mense wat dink hulle mag en kan doen wát hulle wil, wánneer hulle wil, sonder om enigsens aan ander te dink!”

Brian Emmenis, ’n lugvaartkundige wat aankondigings tydens die skou gedoen het, bevestig op Facebook voorsorg is wel getref. “Die organiseerders het alles uitgehaal om te sorg dat (die skou se reëlings) perfek is. Die enorme parkeergebied is lank vooraf gebrand.

Ontploffinkies was lugsakke

“Maar die probleem het ontstaan toe talle mense oraloor begin parkeer het, van wie baie in ’n gedeelte wat nie gebrand is nie. Ouens het gebraai toe die sterk wind oorwaai. So, sterk wind en ’n vleisbraaiery in ’n parkeergebied werk nie lekker saam nie.”

Die digte rook het dit onmoontlik vir vlieëniers gemaak om die grond te sien en die skou is omstreeks 14:00 afgelas, skryf Emmenis. “Ons as openbare aankondigers moes bontstaan om die groot skare op die hoogte te hou.”

Talle ontploffinkies kon uit die rigting van die brandende voertuie gehoor word, sê Muller. “Dit was lugsakke wat geaktiveer is. Geen motors het ontplof nie, en daar was geen ongeluk nie, soos party berigte gelui het. Toe ek laas met die paramedici gepraat het, is niemand ook beseer nie.”

Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier, en Charl Kalamer, Thabo Mofutsanyana-distrikraadslid, het die ramptoneel Saterdag agtermiddag besoek. Foto verskaf

Die VF Plus in die Vrystaat meen die ramp kon afgeweer geword het. “Ondanks waarskuwings oor gebrekkige rampbestuur en die tekort aan brandtoerusting het die voertuie reeds tot as verbrand teen die tyd dat die brandweer opgedaag,” het Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier, gesê nadat hy die toneel laatmiddag besoek het.

“Hierdie skade kon voorkom gewees het indien die munisipaliteit en die polisie effektiewe maatreëls ingestel het om brande te verhoed, veral met die groot aantal besoekers aan die lugskou.

“Die gebrek aan polisieteenwoordigheid buite die terrein het toegelaat dat onbeheerde vure ontstaan het.” Hy skryf dit toe aan die owerheid se “voortdurende swak bestuur en gebrekkige beplanning in noodsituasies”.

Tallose voertuie het blykbaar Saterdag ook in die slag gebly in ’n brand in die skrootwerf van PRO Parts in Welkom. Foto: Facebook

Luidens berigte was dit een van drie brande Saterdag in die Vrystaat waarin voertuie in die slag gebly het. Die ander twee was by die voertuigskut in Qwaqwa en op die skrootwerf van PRO Parts in Welkom se nywerheidsgebied. 

Die SA Weerdiens het Vrydagmiddag ’n waarskuwing uitgereik van uiters hoë brandgevaartoestande oor amper die hele Vrystaat.

OFM Nuus/Morné van Rooyen

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.