On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night Nadine
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfontein se ‘beskermengel’ kort steeds hulp ná verwoestende brand

───   HEIDRÈ MALGAS 13:25 Tue, 03 Sep 2024

Bloemfontein se ‘beskermengel’ kort steeds hulp ná verwoestende brand | News Article
Hester Bekker se huis is in ’n brand verwoes. Foto verskaf

“Na die brand het ons baie verloor en ons het baie nodig om aan te gaan.”

Bloemfontein se “beskermengel” kort steeds dringend die publiek se hulp nadat ’n brand op haar gesin se grond hul besittings in puin gelê en sowat R500 000 se skade aangerig het.

Hulle het groot skade gely en het baie hulp nodig om aan te gaan, sê Hester Bekker, stigter van die organisasie sonder winsoogmerk Guardian & Angels. Die brand is vermoedelik veroorsaak deur ’n vuur wat gemaak is deur kroeggangers aan die agterkant van Bekker se woning in Estoire.

“Die onmiddellike hulp wat ons nodig het, is ’n voertuig om ons werk vir behoeftiges voort te sit; sement, plafonborde, verf, teëls en draad en pale. My dogter het haar sitkamerstel, wasmasjien, TV en radio verloor.

‘Ons het vuurbane gemaak, maar die wind was erg’

“Ons benodig ook ou speelgoed vir die vier seuntjies; al hulle speelgoed het uitgebrand, insluitend hul fietsies,” sê Bekker. Sy vertel sy het haar man en kinders ná die brand aangespoor om hul kop op te lig, “die lewe dag vir dag te vat en saam te staan om alles weer reg te kry.

“Ons het ook na behoeftiges uitgereik met klere en ander items wat aan ons geskenk is, maar wat ons nie in die tyd nodig gehad het nie. God sal niks op jou pad plaas wat Hy weet jy nie kan hanteer nie.”

Bekker en haar familie het wel voorsorg vir brande getref. “Ons het vuurbane gemaak, maar die wind was erg. Ons sal nou breër vuur bane moet maak en die omgewing dop hou vir brande.”

Hester Bekker het alles in haar agterplaas verloor. Foto verskaf

Die brand is veroorsaak deur brandstigting wat drie hoewes van hulle af begin het, en ’n polisiesaak is geopen. “Ons raak nog baie emosioneel, maar ons bid en glo dat ons hierdeur sal kom. Die gemeenskap van Bloemfontein, sowel as mense van buite Bloemfontein, het hul hart en hande oopgemaak.”

Sy vertel sy het magteloos gevoel toe die vlamme woed. “Ek wou almal en alles red, maar besef toe ek kon nie.

“Toe ek in my kinders en kleinkinders se gesig gekyk het en die helder trane oor hul pikswart wange van die rook en roet gesien het, het dit gevoel asof ek nie hard genoeg probeer het nie.”

‘Ons het drie maande oor om dit te reël’

Haar vier kleinkinders en nege volwassenes wat in die huis was, is almal ongedeerd. Gelukkig het die diere ook nie seergekry nie.

Jaarliks hou Guardian & Angel ’n Kersprojek vir tussen 400 en 700 gesinne waar hulle kospakke, geskenke, en ’n ete voorsien. “Ons het drie maande oor om dit te reël en het hulp nodig van die publiek en besighede. 

“Ons het regtig ’n voertuig nodig om van hierdie projek ’n sukses te maak.”

Indien iemand met finansiële of fisieke skenkings wil help, kan hulle Bekker whatsapp by 072 423 6277, bel by 068 217 6895, of ’n e-pos stuur na hesterbekker25@gmail.com.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.