On Now
Weekends 20:00 - 22:00
Sunday Night Nadine
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

6 van Noord-Kaap onder 10 slagoffers in Vanrhynspas-ongeluk

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:06 Tue, 03 Sep 2024

6 van Noord-Kaap onder 10 slagoffers in Vanrhynspas-ongeluk | News Article
Tien insittendes is op slag dood. Foto: X

“Die bus het na bewering Maandag 42 werkers van Keimoes na Ceres vervoer toe dit omstreeks 17:30 op die grens tussen die Wes- en Noord-Kaap van die pad gery het.”

Die dodetal ná ’n busongeluk in die Vanrhynspas naby die Noord-Kaapse grens het Dinsdag (3/9) op tien gestaan.

“Ons kan bevestig dat 29 mense met beserings in die hospitaal opgeneem is; tien insittendes is op die toneel dood verklaar,” sê Joseph Swartbooi, die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder. 

#BusAccident #VanrhynsPass

Video courtesy: @BOSBEER2006 @WCLiveTraffic pic.twitter.com/PwEBa9mGlQ

Ses mense is op slag dood. Ses van die tien oorledenes kom van die Noord-Kaap, sê Billy Claasen, uitvoerende direkteur van die Landelike en Plaaswerkersontwikkelingsorganisasie. “Ons betuig ons innige meegevoel met die oorledenes se naasbestaandes, vriende, kollegas en ander plaaswerkers,” sê Claasen.

Die bus het na bewering Maandag 42 werkers van Keimoes na Ceres vervoer toe dit omstreeks 17:30 op die grens tussen die Wes- en Noord-Kaap van die pad gery het. “Die bus het eers teen die bergkant gebots en toe teen ’n krans afgerol. Die presiese oorsaak van die ongeluk word ondersoek,” sê Swartbooi. 

Die Vanrhynspas op die R27 in die Bokkeveldberge verbind Vanrhynsdorp in die Wes-Kaap met Nieuwoudtville in die Noord-Kaap. Die gevierde pasbouer Thomas Bain het die 8 km lange bergpas in 1880 gebou. Dit is 83 jaar later geteer en bereik ’n hoogte van 900 m met ’n maksimum helling van 1:9.

Busongelukke lei jaarliks tot honderde ernstige beserings en ’n aansienlike aantal sterftes, berig Bus Accidents Claims in South Africa. 

In 2024 het ’n busongeluk in Limpopo opslae gemaak toe dit 45 menselewens geëis het en ’n meisie (8) al oorlewende was. Enkele maande tevore het ses skoolmeisies hul lewe verloor en is 48 ander leerlinge beseer toe hul bus op 7 Februarie naby Ventersburg in die Vrystaat omgeslaan het. Omstreeks dieselfde tyd het ’n busongeluk in die Wes-Kaap 13 lewens geëis.

In ’n studie deur die Padverkeersbestuurskorporasie is bevind busse was oor ’n tydperk van vyf jaar by 323 noodlottige ongelukke in Suid-Afrika betrokke, wat tot 487 sterftes gelei het. Gauteng het die hoogste getal noodlottige busongelukke gehad toe 76 ongelukke tot sterftes gelei het.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.