Central SA
N1 gesluit ná botsing tussen motor, vier vragmotors by Verkeerdevlei─── HEIDRÈ MALGAS 13:59 Thu, 11 Jul 2024
“Dit was ’n reuse-ongeluk waarby verskeie vragmotors en een ligte motorvoertuig betrokke was, waarvan die insittende ongelukkig op die toneel dood verklaar is.”
’n Motoris is dood en vier vragmotorbestuurders is beseer in ’n ongeluk op die N1 tussen Bloemfontein en Winburg. Die pad was gesluit ná die botsing tussen vier vragmotors en ’n ligte motorvoertuig naby die Verkeerdevlei Tol Plaza.
Voertuie na Welkom word via die R30 herlei. Padgebruikers wat vanaf Winburg reis, word na die Brandfort-aansluiting herlei. Wetstoepassingsowerhede is tans op die toneel.
LUR Jabu Mbalula, van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, was op die toneel. “Dit was ’n reuse-ongeluk waarby verskeie vragmotors en een ligte motorvoertuig betrokke was, waarvan die insittende ongelukkig op die toneel dood verklaar is. Ons opregte meegevoel aan die familie.
“Van die vragmotorbestuurders is ook beseer. Een is na die hospitaal in Winburg geneem, en drie is na Busamed in Bloemfontein. Ons polisie-ondersoekers is op die toneel. Hulle sal binnekort vir ons ’n behoorlike verslag gee van wat presies gebeur het.”
Mbalula het gesê die boodskap wat hulle wil dryf – veral aan vragmotorbestuurders – is om asseblief seker te maak hulle is uitgerus voordat hulle die paaie aandurf. “Verseker ook dat alle voertuie wat op ons paaie ry, padwaardig en veilig is vir alle reisigers. As die departement sal ons met ons verkeerskomponent kommunikeer om sigbaarheid te verhoog.
“Soos ek verstaan, was daar ’n bietjie van ’n verkeersopeenhoping by die tolhek, aangesien slegs twee betaalpunte in werking was. Ons sal saam met Sanral en RTMC moet kyk wat ons as ’n kollektief kan doen om ongelukke soos hierdie te vermy.”
Hy het die nooddienste en wetstoepassingsagentskappe gelukgewens met die vinnige reaksie en het al die beseerdes ’n spoedige herstel toegewens.
Volg https://www.ofm.co.za/Traffic gratis vir die nuutste verkeerswenke.
Dit kom slegs ’n dag nadat die N1 suidwaarts by Bloemfontein Woensdag (10/7) ook vir ‘n geruime tyd gesluit was ná nog ’n ongeluk.
“Die een vragmotor het teen ‘n ander stilstaande vragmotor gebots,” het Sinah Mpakane, polisiewoordvoerder gesê. Die ongeluk het ’n verkeersophoping tussen die Kenneth Kaunda-afrit en die Nelson Mandela-afrit veroorsaak.
Die vragmotor wat teen die stilstaande vragmotor gebots het. Foto: OFM Nuus.
“Tydens die verkeersopeenhoping het ongeduldige motoriste, asook ’n vragmotorbestuurder op die middelman van die snelweg gery om die ongelukstoneel te vermy. Die vragmotor se vrag was egter te swaar en dit het die vragmotor laat kantel,” het Mpakane gesê.
Een persoon is ernstig beseer en nog een het matige beserings opgedoen.