On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Plaaswerkers vas ná ernstige byl-aanval op boer van Warden

───   KAREN VAN DER BERG 15:07 Thu, 26 Oct 2023

Plaaswerkers vas ná ernstige byl-aanval op boer van Warden | News Article
Gert Beukes en sy dogter Ina. Foto verskaf

“Dit is baie sleg vir ons. My pa het hartversaking en ons is nie seker hoe hy so ’n aanval sal kan hanteer nie.”

’n Boer van die distrik Warden is ernstig beseer nadat hy Woensdagmiddag (25/10) na bewering deur sy plaaswerkers met ’n byl aangeval is.

Gert Beukes (64) se seun Jan (23), of Jassie soos hy bekend staan, is in die aanval op hul plaas, Rietfontein, gewurg.

Beukes se dogter Hendrina Brooks (28), van Citrusdal in die Wes-Kaap, sê soos wat sy verstaan, was die plaaswerkers Woensdag kwaad en opstandig. Hulle wou glo eers hul ontbyt vroeër as gewoonlik gehad het. 

Gert  en Regina Beukes boer op die plaas Rietfontein. Foto verskaf

Daarna het hulle hul geld vir die maand gevra. Die lone word eers op die laaste Vrydag betaal. “Hulle is gevra om die plaas te verlaat as hulle nie wil werk nie en dat hulle Vrydag kon terugkom vir hul lone.” 

Hendrina sê dit het egter bekend geword dat die mans later deur die dag begin dorp toe stap het, maar hulle het na bewering van die plaas se byle saamgeneem. Sy sê haar pa en Jan het hulle met ’n bakkie agternagesit om die beweerde gesteelde gereedskap terug te kry.

“Soos ek verneem, het een van die plaaswerkers my broer begin wurg.” Haar pa wou ingryp toe ’n ander plaaswerker hom met ’n byl begin aanval.

Gert en Regina Beukes by hul kinders en kleinkinders. Foto verskaf

“Jan het dadelik hulp probeer kry en boere van die omgewing was vinnig op die toneel om te help. Die polisie en ambulans het ook opgedaag.”

Beukes is na die Reitz-hospitaal geneem. Daar was niks wat hulle vir hom daar kon doen nie en hy is per ambulans na Bloemfontein geneem. “Dit is baie sleg vir ons. My pa het hartversaking, en ons is nie seker hoe hy so ’n aanval sal kan hanteer nie.” 

Die plaaswerkers het Jan (Jassie) Beukes glo gewurg voor sy pa ingegryp het. Foto verskaf

Haar ma, Regina, hou hulle deurlopend op die hoogte. Hy het baie ernstige bloeding op die brein en ’n gapende oop wond. “Ons is baie bekommerd,” sê sy. ”Dit is veral vir my ontsettend sleg om so ver van die plaas af te wees.”

Hendrina sê die hele aanval klink vir haar “verdag” en is moeilik verstaanbaar. “My pa het altyd ’n baie goeie verhouding met die plaaswerkers gehad. Daar was gewone struwelinge soos in enige werkverhouding. Maar ons sal nooit kon dink hulle sou hom aanval nie. Dit is ongewoon. Iets klop nie.”

‘Daar was glo ontevredenheid omdat hulle nie hul lone ontvang het nie’

Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het die aanval bevestig. Hy sê daar was glo ontevredenheid omdat hulle nie hul lone ontvang het nie en weggejaag is. 

Hy het bevestig die twee verdagtes is in hegtenis geneem en aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hulle het reeds in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort.

OFM Nuus / Karen van der Berg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.