On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Vroueboer Mimie Jacobs se aanrandingsaak uitgestel oor siek verdagte

───   HEIDRÈ MALGAS 16:47 Fri, 13 Oct 2023

Vroueboer Mimie Jacobs se aanrandingsaak uitgestel oor siek verdagte  | News Article
Mimie Jacobs: Foto verskaf

“Ná die aanval het ek geleer om versigtiger en meer bewus te wees en om ook my sekuriteit op te skerp – ek het geleer om myself te beskerm aangesien die boer die eerste teiken is.”

Die saak teen die verdagtes wat die Vrystaat se vroueboer van die jaar 2016 na bewering wreed aangerand het, is uitgestel omdat een van haar vermeende aanvallers te siek was om voor te kom.

Mimie Jacobs het in 2020 op haar plaas in Rosemead, Bloemfontein, ter nouer nood aan die dood ontkom nadat sy met ’n mes aangeval is. Sy vertel dit was traumaties om haar aanvallers in die hof te sien. Dit het gevoel asof sy die ontstellende gebeure weer beleef.

“Ná die aanval het ek geleer om meer versigtig en bewus te wees en om ook my sekuriteit op te skerp. Ek het geleer om myself te beskerm aangesien die boer die eerste teiken is,” sê sy.

Ná die aanval het sy geen formele berading ontvang nie – as ’n gelowige persoon praat sy met die Here en Hy help haar om te genees. “Ek het ook die ondersteuning van my familie en naaste vriende gekry wat graag na my luister en tyd saam met my deurbring wanneer dinge te veel raak.”

Sy sê die saak is uitgestel weens een van die verdagtes se gesondheidstoestand, maar hulle kalmte was verontrustend vir haar.

“My wens is dat die Nasionale Vervolgingsgesag die saak met meer erns sal hanteer en deeglike voorbereiding sal tref vir die eersdaagse verhoor; die teenoorgestelde sal 'n ramp wees.“

Haar geloof in God, familie, vriende en kennisse het alles bygedra tot haar geestelike welstand – en sy is dankbaar dat haar lewe gespaar is en dat sy nog “n kans gekry het om haar lewe te lei en haar drome waar te maak ondanks die beserings wat haar lewe verander het.

“My saak is uitgestel weens Eskom se volgehoue kragonderbrekings, ook die uitgedateerde, gebrekkige toerusting by die howe. Daar moet meer aandag aan infrastruktuur, toerusting en prosesse geskenk word.”

‘Sy kon daarin slaag om weg te kom en hulp by die bure, 7 km verder, te gaan kry’

Karen van der Berg berig Phaladi Shuping, Vrystaatse NVG-woordvoerder, het bevestig een van die drie verdagtes was Woensdag siek. Die saak is daarom uitgestel tot 4 en 5 April volgende jaar.

OFM het vroeër berig  Jacobs is op 22 Februarie 2020 in haar huis op haar plaas, Rosemead, in die Soutpan-omgewing aangeval. Die verdagtes het haar kombuisdeur oopgemaak. Hulle het geld by haar geëis en haar aangerand. Sy kon daarin slaag om weg te kom en hulp by die bure, 7 km verder, te gaan kry.

Die saak was reeds voor die jongste vertraging in omstredenheid gedompel oor die verdagtes op waarskuwing en borgtog vrygelaat is en nie in aanhouding is nie.

OFM Nuus/Heidré Malgas

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.