On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Tweede toeris binne twee maande in Noordwes-reservaat aangeval

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:13 Mon, 16 Sep 2024

Tweede toeris binne twee maande in Noordwes-reservaat aangeval | News Article
Foto: iStock

“Die toeris is daarna deur ’n volwasse olifant aangeval, al het ander toeriste hom gewaarsku om terug te keer na sy motor.”

’n Portugese toeris is Saterdag (14/9) ernstig beseer in die Pilanesberg-natuurreservaat nadat hy deur ’n dier aangeval is.

Na bewering het die toeris uit sy voertuig geklim ondanks regulasies wat dit verbied, sê Thami Matshego, uitvoerende hoof van die provinsiale Parke-en-toerismeraad.

Die toeris is daarna deur ’n volwasse olifant aangeval, al het ander toeriste hom gewaarsku om terug te keer na sy motor. Die voorval het omstreeks 13:00 naby die Mankwe-meer plaasgevind.

‘Ander besoekers het hulle gewaarsku’

Die toeris het ernstige beserings, veral aan sy middellyf, opgedoen en is na ’n plaaslike hospitaal gehaas vir stabilisering, voordat hy na ’n hospitaal in Pretoria oorgeplaas is. ’n Familiegroep olifante het hom in die lug opgegooi en getrap.

Volgens Matshego was die man teen Sondagoggend in ’n stabiele toestand. “Ooggetuies het twee mense buite hul voertuig gewaar op hul rit deur die reservaat, maar ons weet nie of hulle besef het hoe naby die olifante was nie. Ander besoekers het hulle gewaarsku om terug in hul voertuig te klim,” sê Matshego.

In Julie het ’n trop olifante ’n Spaanse toeris in dieselfde reservaat doodgemaak nadat hy uit sy voertuig geklim het.

Matshego sê geen olifante sal weens Saterdag se voorval van kant gemaak word nie.

‘Herhaalde voorvalle kan hul gedrag teenoor toeriste verander’

Pilanesberg se olifante tree gewoonlik rustig op rondom toeriste se voertuie, en die reservaat wil dit so hou, sê Deborah Mooketsi, woordvoerder van die parkeraad. “Sommige toeriste, ondanks talle waarskuwings en inligting, verstaan nie dat wilde diere in reservate gewelddadig kan reageer wanneer hulle bedreig of bang voel nie.

“Hierdie voorvalle is nie net ontstellend vir mense nie, maar ook vir die olifante aangesien herhaalde voorvalle hul gedrag teenoor toeriste kan verander.”

Mooketsi sê dis lewensbelangrik om die reëls te gehoorsaam om sulke voorvalle te voorkom. “Die raad beplan om opvoeding en bewusmaking op te skerp, veral namate die Park Mahala-week nader kom.

“Die parkeraad wil besoekers ook daaraan herinner dat die reservaat se reëls en regulasies, wat op die toegangspermit gedruk is, gehoorsaam moet word om die veiligheid van gaste én diere te verseker.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.