Central SA
Klerksdorp-aanranding: Hilton Pretorius sterf in hospitaal─── HEIDRÈ MALGAS 12:55 Wed, 20 Sep 2023
“Ek bid dat God al die pyn en die onvermoë sal wegneem. God, kom na my kind toe.”
Hilton Pretorius, wat vroeg in September na bewering deur Wernich Botha in ’n parkeerterrein in Doringkruin, Klerksdorp, aangerand is, het Woensdagoggend (20/9) gesterf. Hy het ernstige breinbeserings in die aanranding opgedoen.
“Hy is om 08:05 in die hospitaal oorlede,“ sê Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder. Die aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer, word nou na moord verander.
’n Facebook-blad is vir Pretorius begin om familie en vriende op die hoogte te hou van sy toestand. Hilton se ma, Linda Mey, het Dinsdag (19/9) op die groep geskryf: “Dit is ’n donker, swart nag sonder ’n maan wat oor Klerksdorp hang.
‘Ek wil hom nie sien in so ’n vreeslike pyn en lyding nie’
“My kind is baie kritiek. My Hielie is baie sleg. Ek wil hom nie sien in so ’n vreeslike pyn en lyding nie. Ek bid dat God al die pyn en die onvermoë sal wegneem. God, kom na my kind toe.”
OFM Nuus het vroeër berig drie mans was betrokke in die voorval. Pretorius en PW Roos, ’n sakeman, was bewusteloos toe hulle in die hospitaal opgeneem is.
Wernich Botha is op borgtog van R2 000 vrygelaat nadat hy in die hof op aanklag van aanranding verskyn het.
OFM Nuus/Heidrè Malgas