Central SA
Noordwes se oudste skool vier sy 133ste bestaansjaar─── ELSABÉ DE JAGER 14:42 Fri, 28 Jul 2023
Aan die oewer van die Mooirivier in Potchefstroom tussen die wilgerbome word hierdie naweek feesgevier.
Met sy ontstaan op 30 Julie 1890 word hy gedoop “Armenschool”. In 1903 verander sy naam na “South School”. In 1927 herdoop politieke woelinge hom weer, hierdie keer na “Suidskool”. In 1955, ná die afsterwe van ds. M.L. Fick, stigter van die skool, verander hy vir die laaste keer van naam.
Vandag vier die Emmies van Laerskool M.L. Fick, oudste laerskool noord van die Oranjerivier, sy 133ste bestaansjaar. Sy storie is kleurryk, interessant, maar ook vertel die mure van swaarkryjare, veral tydens die verbitteringstydperk tussen Boer en Brit. As oorlogskool word onderwys gegee vir 40 leerlinge, terwyl die gebou ook as tydelike kamp vir gevange huisgesinne gebruik word.
Leerlinge geniet die verjaarsdagpartytjie Foto : Verskaf
Van die klaskamers spog vandag steeds met oorspronklike sandsteenblokke en houtraamvensters wat dateer uit 1890. Altesaam 760 leerlinge het die voorreg om in die skoolgebou, wat in 1890 in Peter Mokabstraat geopen het, onderrig te ontvang.
Vandag hou die Emmies ’n groot tradisionele verjaardagpartytjie. In elke klaskamer is ’n koek gesny en vrolike verjaardagliedjies word in die gange gehoor. Môre duur die vrolikheid voort tydens die opedag vir volgende jaar se nuwe leerlinge.
Die 53 personeellede is toegewyd om aan die jong kinders ’n laerskoolervaring te gee wat hulle nooit sal vergeet nie. Afgesien van die gewone bedrywighede soos sport, koor en ander kultuuraktiwiteite, neem die Emmies ook deel aan gemeenskapsprojekte, soos die Omgeeprojek waar gebreide items by die sentrale sakegebied in die dorp opgehang word. Daar kan behoeftiges dan vir hulle ’n warm item gaan haal.
Laerskool M.L. Fick spog ook met sy landloopatlete. Foto: Verskaf
Heyns Deacon, skoolhoof. is trots op die skool, onderwysers en leerders wat hy prinse en prinsesse noem. Dit is vir hom ’n voorreg om hierdie naweek die skool se 133ste bestaansjaar saam met sy span te vier. Daar sal ook tydens dié feestelikheid met dankbaarheid gedink word aan ds. M.L.Fick, stigter van die skool en voorheen vir 30 jaar lank leraar van die NG Moedergemeente Potchefstroom.
OFM Nuus/Elsabé de Jager