On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

‘Parys, ’n eiland van eindelose wateronderbrekings en beurtkrag’ – VIDEO

───   TSHEHLA KOTELI 09:17 Tue, 25 Jul 2023

‘Parys, ’n eiland van eindelose wateronderbrekings en beurtkrag’ – VIDEO | News Article

Inwoners van Parys in die Vrystaat het die dorp beskryf as 'n eiland van eindelose wateronderbrekings en beurtkrag, aangesien hulle aan donkerte onderwerp is en hul krane dikwels droog is.

Buks de Kok beweer hulle was verskeie dae sonder water, wat een van die redes is waarom daar besluit is om Saterdag (22/07) met 'n vreedsame betoging by Tumahole se substasie te begin. Volgens inligting wat OFM-nuus ontvang het, was elektrisiëns op dieselfde dag van die betoging by die substasie besig om elektrisiteitsprobleme reg te stel en te verseker dat die water terug na die dorp gepomp word.

“Die polisie is steeds teenwoordig nadat die betogers die gebied verlaat het en sal daar bly om te verseker dat die elektrisiëns hul werk kan doen om die krag aan te skakel. Dankie almal vir julle geduld, wat nou min raak. Die waterwerke is aan die gang en water word om die beurt na Tumahole en Parys gesuiwer en gepomp,” lui die boodskap.



Ten spyte van dié boodskap wat OFM Nuus Saterdag ontvang het, verduidelik De Kok dat hulle van Sondag (23/07) weer droog gelaat is. “So het ons Saterdag 'n vreedsame betoging van 18:00 tot 20:00 gehad, ons was by die substasie waar hierdie ekstra beurtkrag geïmplementeer word. Daar was glad nie geweld nie, en om 20:00 het ons hulle gelos om aan te gaan met hul werk om die water terug te bring, maar van Sondag af was ons weer sonder water.”

Die uitdagings van hierdie dorp het eintlik 'n paar jaar terug begin. Beurtkrag word voortdurend vir die waterstryd geblameer,” het De Kok gesê. Hy verduidelik verder dat nadat hulle beurtkrag vir die normale geskeduleerde tyd deur Eskom gehad het, die area waar die waterwerke geleë is, nog 'n stel beurtkrag ervaar, wat daartoe lei dat die water nie die pypleidings bereik nie.

LEES OOK: Inwoners van Ngwathe se probleme met water, elektrisiteit vererger

OFM Nuus het vroeër berig Karien Viljoen van die plaaslike aksiegroep Save Ngwathe het gesê besighede en hospitale kry swaar weens die aan- en afskakeling van water- en elektrisiteitstoevoer in die gebied. Verskeie gebiede in Parys sit al dae lank sonder water en elektrisiteit.

Van die informele nedersettings sit al drie jaar sonder water en dele van Tumahole in Parys is vir minstens sewe jaar sonder elektrisiteit. "Hoe verwag die munisipaliteit dat mense moet oorleef, hoe kan besighede oorleef?"

Sy het verduidelik Save Ngwathe is verlede jaar begin toe hulle vir minstens vier dae nie elektrisiteit gehad het nie. “In hierdie munisipaliteit, wanneer daar nie elektrisiteit is nie, sal daar geen water wees nie, want daar is geen kragopwekkers vir die watersuiweringsaanleg of vir die rioolaanleg nie.”

Cliff Graham het destyds 'n mediaverklaring uitgereik waarin hy beweer dat die munisipaliteit 'n hofbevel ignoreer. "Daar word beweer die munisipaliteit het verskeie vergaderings met Eskom gehad oor hoe hulle beplan om hul skuld te delg. Volgens Graham het hulle 'n ooreenkoms vir betaling onderteken, maar die munisipaliteit het hom nie tot die plan verbind nie.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.