On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

Food

Glans-sjef Herman Lensing opgewonde oor terugkeer na eenvoudige kos

───   11:55 Thu, 08 Jun 2023

Glans-sjef Herman Lensing opgewonde oor terugkeer na eenvoudige kos | News Article
Sarie se kosskrywer en -redakteur, Herman Lensing, is in Bloemfontein. Foto verskaf

Die kosskrywer en -redakteur Herman Lensing sê hy is ingenome met die oplewing in kos en die hernieude belangstelling in die rol wat dit in ons lewe speel. “Ek kom ál meer agter dat daar ’n terugkeer is na kos wat eenvoud bied en selfs nostalgies is.

“Die tendens is eerlike huiskos wat met beskikbare bestanddele gemaak word. Wanneer jy bestanddele gaan koop, moet jy besef dit kom uit ’n boer se hand en dat dit met keur en sorg gemaak is.”

Lensing sê kos maak hom baie opgewonde omdat dit ’n taal is wat alle mense verstaan. “Dit bind hulle, ongeag hul agtergrond of omstandighede. Dit hoef nie elegant te wees nie, maar dit moet met liefde en die regte bedoelings berei word.”

‘Niks klop die bederf van goeie kos en samesyn nie’

Lensing is van Donderdag (8/6) tot Saterdag (10/6) vir die tweede maal in Bloemfontein as deel van die tydskrif SARIE se Inspirasie-etes. "Niks klop immers die bederf van goeie kos en samesyn om die tafel nie.”

Die winter in Sentraal-Suid-Afrika is nie ’n grappie nie, sê Lensing, maar Vrystaters se warmte en gasvryheid vergoed daarvoor. 

“Ek is ’n Kalahari-kind en my grootwordjare op Upington het my darem bietjie bestand teen die koue gemaak. En ons is heeldag op ons voete en hard aan die voorberei, wat ’n mens help om nie aan die koue te dink nie.”

Herman Lensing sê daar was van die begin af ’n hunkering om iets in die binneland te doen. Foto: Facebook

Lensing sê die idee van inspirasie-etes het klein begin met ’n voorstel van Michelle van Breda, SARIE se redakteur, om vir lesers ’n ete te hou. Dit het gou in gewildheid toegeneem. “Toe skielik, voor jy jou kom kry, het dit ’n wonderlike, groot projek geword.”

“Daar was wel van die begin af ’n hunkering dat ons iets in die binneland moet doen,” sê hy. Verlede jaar is dié droom bewaarheid.

Herman Lensing sê kos word voorberei wat nie gaste sal intimideer óf honger laat nie.  Foto: Facebook

Wanneer die tafels nou weer kreun van die lekkerte, die kospotte prut van heerlikheid en kossmake bekoorlik is, kan dit net Herman Lensing wees wat ’n feesmaal berei.

OFM Nuus/Karen van der Berg


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.