Central SA
Jong digter van Upington wen gesogte prys─── MORNÉ VAN ROOYEN 16:28 Fri, 21 Apr 2023
’n Oudleerling van die Hoërskool Upington sê “dankbaar” is ’n klein woordjie, maar hy het geen ander woord nie om te beskryf hoe hy voel nadat hy aangewys is as medewenner van ’n prestigeryke prys.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het Vrydag (21/4) die wenners van sy gesogte Akademiebekronings vir 2023 aangekondig.
Met die POORT-kompetisie, wat in 1971 begin het, wil die Akademie skeppende talent onder hoërskoolleerders ontdek, aanmoedig, waardeer en aan ’n groter gehoor blootstel. Alle leerders van gr. 10 tot 12 kan ’n storie of ’n gedig inskryf, en die wenners word jaarliks saam met die ander Akademiebekronings bekendgemaak.
Van vanjaar se wenners is die Kroonstadse boorling Antjie Krog, wat die derde keer die Hertzogprys vir poësie wen, vir haar bundel Plunder. Prof. Andreas Roodt, buitengewone professor aan die Universiteit van die Vrystaat, word bekroon met die M.T. Steynprys vir Natuurwetenskappe en Tegnologiese Prestasie, terwyl die akteur Chris van Niekerk van 7de Laan-faam die SA Akademieprys vir Drama wen vir sy lewensbydrae tot drama in Afrikaans.
“Ek is dankbaar vir die geleentheid wat oor my pad gekom het," vertel JD Carr oor die prys wat hy wen met sy gedig “v-e-r-l-i-e-f”, ”Ek is dankbaar vir God in die hemel wat vir my hierdie gawe gegee het en hierdie saadjie in my geplant het om te begin skryf in Covid se tyd nog.
“En ek is dankbaar vir die mense langs die pad wat vir my ook altyd bystaan met al die skrywerye en vir my ma en suster wat alles moet proeflees voor ek enigiets instuur. As dit nie vir my suster was nie, het ek nie eens hierdie gedig ingeskryf nie. Sy’t my gepeper om hom in te skryf.”
‘Ons wik, maar God beskik’
Hy sê hy is dankbaar vir almal op sy pad en sien uit na alles wat vir hom voorlê. “Die wen is vir my net weer ’n voorbeeld van: Ons wik, maar God beskik, want ek het glad nie verwag dat hierdie gedig iets van gaan kom nie. Ek is net stomgeslaan vandag.
“En dit wys net weer: God het ’n breër visie vir ons as wat ons kan beplan of bepaal. So, ek is baie dankbaar.”