Central SA
Kameelperdbulle kry vroulike geselskap─── 09:15 Wed, 12 Apr 2023
Die Naval Hill-natuurreservaat in Bloemfontein is nou die nuwe tuiste van twee kameelperdkoeie, Zuri en Kariba, nadat hulle vroeër vandeesweek daar vrygelaat is.
OFM-nuus het voorheen berig die natuurbewaringsgroep Friends of Franklin het aansoek gedoen het om twee vroulike metgeselle vir die kameelperdbulle in die reservaat, in die hart van Bloemfontein, te hervestig.
LEES OOK: Geselskap gesoek vir kameelperdbulletjies
Die koeie is van die Weltevreden-wildplaas gebring wat langs die N1, sowat 30km noord van Bloemfontein, geleë is. Hulle is vir die rit geblinddoek en is deurgaans gemonitor.
Andri Grobbelaar van Friends of Franklin sê die aanskaf van nuwe kameelperde vir die reservaat is nou al drie jaar in die pyplyn.
“Ons het met die munisipaliteit gesels en tien dae gelede het ons goedkeuring gekry om die kameelperde by Naval Hill vry te laat,” sê sy.
Friends of Franklin het die koste van die vervoer en veeartsenykundige sorg gedek.
Bestuurder van Natuurlike Hulpbronne by Naval Hill, Rhulani Shivambu, sê daar is jare laas met kameelperde by die reservaat geteel. Die enigste kameelperdkoei, Masabathu, is twee jaar gelede dood nadat sy in ‘n sloot geval het.
LEES OOK: Naval Hill loses a beloved ‘resident’
"Friends of Franklin help met die bedryf en instandhouding van die reservaat. Hulle het ons genader oor die skenking van twee vroulike kameelperde en ons verwelkom die toevoeging tot die familie en die geleentheid om meer kameelperde in die reservaat te sien," sê Shivambu.