Central SA
Konsertleermeester in die ouderdom van 81 oorlede─── HEIDRÈ MALGAS 15:22 Wed, 23 Nov 2022
Een van Suid-Afrika se voorste konsertleermeesters, prof. Werner Nel, is Dinsdag in die ouderdom van 81 jaar oorlede. Hy was 'n Suid-Afrikaanse bariton wat erkenning verwerf het as kunslied- en konsertsanger.
Volgens ‘n kollega en vriendin, prof, Santisa Viljoen van die Noordwes-Universiteit, was Nel nie net haar sangdosent toe sy by die destydse PU vir CHO gestudeer het nie, hy was ook haar mentor toe sy as sangdosent by die Skool vir Musiek begin klasgee het. “As sulks het ek ongelooflik baie by hom geleer. Hy het mildelik raad gegee.”
Nel is op 5 Augustus 1941 in Stettin, Duitsland, gebore. Hy was een van die Duitse oorlogswesies wat ná die Tweede Wêreldoorlog na Suid-Afrika gebring is om hier deur Afrikaanse ouers aangeneem te word.
Viljoen sê haar mooiste herinnering van Nel was sy verhouding met sy vrou Zella. “Prof het altyd ‘n mooi vrou waardeer en hy kon vreeslik sjarmant wees teenoor die skoner geslag. Maar sy liefde vir die kleine Zella was sonder gelyke. Verder was sy onmeetbare trots opvallend wanneer dit by sy presterende studente gekom het,” sê Viljoen.
”Prof het ‘n ongelooflike sterk persoonlikheid gehad… ’n ‘presence’. Wanneer hy in die vertrek ingeloop het, was dit ‘n geleentheid. Sy bynaam, die baron, het sy houding perfek beskryf. Hy het net die beste van sy studente verwag en kon ‘n harde leermeester wees as hy gedink het dit is nodig, maar kon eweneens met ons spog,” vertel sy verder.
Verder sê sy hy het die sangdepartement gevestig en ontwikkel tot een wat gereken is in Suid-Afrika. Hy het vir hulle ‘n nalatenskap gelaat waarop hulle kon voortbou. “Ek wil graag dink dat die Skool vir Musiek se sangafdeling nou sterker as ooit is omdat dit op so ‘n goeie grondslag gebou is.
“Sy dryfkrag, toewyding en onwrikbare standaarde is wat ek altyd van hom sal onthou, ook as iemand wat ‘teenwoordig’ was in elke les wat ek gegee het, in elke eksamenkamer wat ek gesit het, in elke repertoriumkeuse wat ek vir ‘n student moes maak... as iemand wat lief was vir komkommertjies inlê, afval kook, grappies maak en passievol was vir musiek,” vertel Viljoen.
Nel het in Oos-Londen grootgeword en skoolgegaan aan die Hoërskool Grens, waarna hy aan Rhodes-Universiteit gestudeer het. Hy het by die private skool Kingswood College in Grahamstad skoolgehou.