On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Business

Tweepot: Ramaphosa onderteken laaste stuk wetgewing

───   09:00 Mon, 22 Jul 2024

Tweepot: Ramaphosa onderteken laaste stuk wetgewing | News Article

“Pensioenverwante wetgewing gewysig om die implementering van die tweepot-aftreestelsel moontlik te maak, wat daarop gemik is om aftreespaargeld te versterk.”

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondag (21/7) ingestem tot die Wysigingswetsontwerp op Pensioenfondse, wat pensioenverwante wetgewing wysig om die implementering van die tweepot-aftreestelsel moontlik te maak, wat daarop gemik is om aftreespaargeld te versterk.

Die Wysigingswet op Pensioenfondse wysig die Wet op Pensioenfondse van 1956, die Wet op Pos- en Telekommunikasieverwante Aangeleenthede van 1958, die Transnet-pensioenfondswet van 1990 en die Pensioenwet vir Staatsamptenare van 1996.

Die wet maak voorsiening vir die instelling van die spaaronttrekkingsvoordeel; die toepaslike rekening van ’n lid se belang in die spaargeld; aftrede en gevestigde komponente, en die aftrekkings wat gemaak kan word.

Hierdie wet komplementeer die Wysigingswet op Inkomstewette, 2024 (Wet No. 12 van 2024), wat op 11 Junie 2024 deur die President onderteken is.

Vincent Magwenya, woordvoerder van die presidensie, sê die wet vereis dat pensioenfondse hul reëls moet wysig, hul beleggingsportefeuljes aanpas en administratiewe stelsels voorberei vir pensioenfondslede om vanaf 1 September aansoek te doen om toegang tot gedeeltes van hul pensioenfonds te verkry.

‘ ’n Lid sal toegelaat word om ’n enkele onttrekking per jaar te maak’

“Die regering het ’n hervorming van die aftreespaarregime voorgestel, wat die instelling van die ‘tweepot’-aftreestelsel sal meebring. Vanaf die voorgestelde datum van 1 September 2024 sal een derde van aftreebydraes verdeel word in ’n spaarkomponent en twee derdes in ’n aftreekomponent.


“Wat in die ‘spaarkomponent’ is, sal te eniger tyd voor aftrede beskikbaar wees vir onttrekking. Die vermoë om onvoorwaardelik toegang te verkry tot bedrae uit die “spaarkomponent” sal verskaf word sonder dat die lid diens hoef te staak of te moet bedank. ’n Lid sal toegelaat word om ’n enkele onttrekking binne ’n jaar ná aanslag te maak.

“Die minimum onttrekkingsbedrag is R2 000. Die vermoë om uit die ‘spaarkomponent’ te onttrek sal op ’n per-fonds- of per-kontrakbasis van toepassing wees.”

Magwenya voeg by dat die onttrekkings uit die “spaarkomponent” by die individu se belasbare inkomste gevoeg sal word en teen hul marginale belastingkoerse belas sal word.

“Aftreefondse sal op of kort ná 1 September vereis word om nog ’n komponent, bekend as die ‘aftreekomponent’, te skep, wat binne die huidige aftreefonds gehuisves sal word. Daar sal van individue verwag word om ’n bedrag van twee derdes van die totale individuele aftreefondsbydraes tot die ‘aftreekomponent’ by te dra.

“Die bates in die ‘aftreekomponent’ sal tot aftrede bewaar moet word (m.a.w. onttrekkings uit hierdie komponent kan slegs deur die lid by aftrede verkry word volgens die fondsreëls).

“Sodra ’n lid aftreeouderdom bereik het en aftree, moet die ‘aftreekomponent’ in die vorm van ’n annuïteit (insluitend 'n lewende annuïteit) betaal word. Dit gee lede van aftreefondse toegang tot aftreespaargeld sonder om te bedank of hele pensioenfondse te laat uitbetaal.”

‘Dit is van kardinale belang dat mense die stelsel volledig verstaan’

Die nuwe stelsel, wat buigsamer toegang tot aftreefondse moontlik maak, vereis egter deeglike oorweging, veral vir mense bo 55 jaar. Met slegs ’n paar jaar tot aftrede, moet hulle hul bydraes versigtig bestuur om ’n stabiele finansiële toekoms te verseker.

Die stelsel maak spesifiek voorsiening vir individue wat op 1 Maart 2021 reeds 55 jaar oud was. Vanaf 1 September vanjaar kan hierdie individue kies om, wanneer hulle aftree, onder hul huidige stelsel te bly, wat voorsiening maak vir ’n 100%-kontantonttrekking van alle bestaande pensioen- en voorsieningsfondse wat voor 1 Maart 2021 gespaar is. Hulle sal twaalf maande hê om die keuse te maak. 

So nie kan hulle die nuwe stelsel kies, wat glo beter inkomstestabiliteit en belastingdoeltreffendheid kan bied.

Die doel van die “tweepotstelsel” is om lede van aftreefondse, wat finansieel onder druk verkeer, beperkte toegang te gee tot ’n gedeelte van hul aftreekapitaal, terwyl die res tot aftrede bewaar word.

Dit is van kardinale belang dat mense wat bydra tot aftreefondse die stelsel volledig verstaan om ingeligte besluite te neem wat ooreenstem met hul langtermynplanne en finansiële gesondheid.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.