On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Business

Shein vs. Temu: Kry boontjie sy loontjie?

───   05:51 Wed, 04 Sep 2024

Shein vs. Temu: Kry boontjie sy loontjie? | News Article

“Plaaslike vervaardigers het Shein beskuldig van dieselfde ding waarvan hulle Temu nou beskuldig.”

As die Chinese klerevervaardiger Shein se bewerings teen sy mededinger, Temu, korrek bewys word, kan die maatskappy gedwing word om sy hele sakemodel te verander. Dit kan selfs daartoe lei dat Temu hom aan die Suid-Afrikaanse mark moet onttrek.

Die kitsmodereus Shein het Temu in hul jongste vete van ’n magdom intellektuele eiendomskendings beskuldig, insluitend kopieregskending, handelsnaamskending, onregverdige mededinging en onbillike advertensiepraktyke.

Op 19 Augustus het Roadget Business, beter bekend as Shein, ’n striemende regsgeding teen PPD Holdings, wat die Temu-e-handelsplatform bedryf, in die Amerikaanse federale hooggeregshof aanhangig gemaak.

Shein het volgens Adams & Adams Temu van die volgende onwettige optredes beskuldig:

  • Kopieregskending: Shein beweer Temu skend die kopiereg van sy verskillende klereontwerpe en reproduseer foto’s van hierdie ontwerpe sonder Shein se toestemming.
  • Verskeie vorme van handelsnaamskending: Shein het Temu van handelsnaamskending en vervalsing beskuldig op grond van die beweerde gebruik van die Shein-handelsnaam op klere-etikette wat op Temu se aanlyn platforms vertoon word. Nog ’n eis vir handelsnaamskending is gegrond op die bewering dat die handelsnaam Shein deur Temu gebruik word in advertensies, omdat dit aangedui word in internetsoektogte.
  •  Onregmatige mededinging: Shein het ook verskeie vorme van onwettige mededinging deur Temu aangevoer, insluitend die wanaanwending van handelsgeheime en die stropery van werknemers en verskaffers.

Shein sê die beweerde dade van oortreding kan die publiek mislei en dit kan Temu in staat stel om op onregverdige wyse finansieel by die onwettige gedrag baat te vind.

Shein voer aan dat Temu se optrede onherstelbare skade aan Shein se welwillendheid en reputasie sal veroorsaak en die Shein-handelsnaam sal verswak.

In Suid-Afrika het die maatskappye vyande gemaak deur die plaaslike kleresektor te ontwrig met pryse wat aansienlik laer is as dié van die land se kleinhandelaars.

Plaaslike vervaardigers het Shein beskuldig van dieselfde ding waarvan hulle Temu beskuldig – met ’n sakemodel wat nie sulke lae pryse kan vra sonder om oneties te wees nie.

Shein is al etlike jare in Suid-Afrika beskikbaar, terwyl Temu ’n relatief nuwe toetreder tot die mark is. Dit is eers in Januarie plaaslik bekendgestel.

Beide e-handelsplatforms het geweldige groei in 2024 beleef. Plaaslike kleinhandelaars het hulle egter daarvan beskuldig dat hulle invoerbelastingskuiwergate uitbuit om plaaslike klerepryse te ondermyn.

Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het hom daartoe verbind om op die Chinese kleinhandelaars toe te slaan.

Die SAID het homself voorheen daartoe verbind om die skuiwergat op 1 Julie toe te maak om die kwessie aan te pak. Dit het egter die implementering van die verandering vertraag met verwysing na ’n behoefte aan meer betrokkenheid by belanghebbendes.

Kieswetter het later gesê dat die SAID vanaf 1 September tussentydse belastingveranderings vir e-handelspelers gaan implementeer.

“As Shein korrek is deur te sê Temu se sakemodel werk net omdat dit by hierdie onwettige sakepraktyke betrokke is, sal dit vorentoe verbied word om dit te doen en kan die maatskappy gedwing word om sy hele sakemodel te verander,” het die regsontleder Werina Griffiths aan Newzroom Afrika gesê. “Dit sal daarvan afhang of Shein hierdie bewerings kan bewys.”

Griffiths sê die modebedryf is gegrond op intellektuele eiendom en dat ondernemings meeding om die jongste neigings te bepaal. Dit moet egter binne die wetlike grense gedoen word.

Temu sal dalk die jurisdiksie waarin hy kies om te werk moet hersien, het sy aangevoer.

Albei kleinhandelaars het geveg om markaandeel in die kitsmodemark in die nasleep van die Covid-19-pandemie.

“Volgens die dokumente wat Shein ingedien het, verklaar hulle dat Temu die Amerikaanse mark in 2022 betree het, en teen Mei 2024 het Temu reeds ’n basis van tussen 150 en 160 miljoen gebruikers verkry.

“In ’n baie kort tyd het Temu nogal ’n stewige vastrapplek in hierdie baie mededingende mark gevestig. En omdat hy ’n direkte mededinger van Shein was, sou ’n deel van Shein se verlore markaandeel na Temu gegaan het,” sê Griffiths.

‘Die vermetelheid is ongelooflik’

“Die vermetelheid is ongelooflik,” het ’n Temu-woordvoerder aan MyBroadband gesê.

“Shein, begrawe onder sy eie berg van regsgedinge, fabriseer beskuldigings teen ander vir die einste wangedrag waarvoor hy herhaaldelik gedagvaar word.”

Groot modehandelsname, soos H&M, Victoria’s Secret, Levi Strauss en Uniqlo, het Shein van kopieregskending beskuldig. Baie modeontwerpers, grafiese ontwerpers en klein ondernemings het dieselfde gedoen.

Dit is egter nie die eerste keer dat die twee winskopie-kleinhandelaars regstappe teen mekaar doen nie. Temu het Shein daarvan beskuldig dat hy intimidasie en dreigemente gebruik om verskaffers te keer om met hulle sake te doen.

Vervolgens het Shein beweer Temu het beïnvloeders op sosiale media gekontrakteer om vals stellings oor Shein in sy advertensies te maak.

Albei regsgedinge is uiteindelik laat vaar, maar die woordewisseling het nie daar opgehou nie. Shein is toe daarvan beskuldig dat hy handelaars wat met Temu sake gedoen het, aangehou en gedreig het.

OFM Nuus cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.