On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Business

Vierde agtereenvolgende brandstofprysdaling vir September verwag

───   05:05 Sat, 17 Aug 2024

Vierde agtereenvolgende brandstofprysdaling vir September verwag | News Article
Ongeouditeerde data dui op ’n verlaging in brandstofpryse. Foto: Algoa FM

“Hierdie dalings, indien dit realiseer, sal die brandstofprys op vlakke bring wat aan die begin van die jaar gesien is.”

Brandstofpryse gaan oor die algemeen in September daal, wat die vierde agtereenvolgende keer vanjaar sal wees dat brandstofpryse in Suid-Afrika daal.

Die Automobiel Assosiasie (AA) sê gegrond op ongeouditeerde middel-maand-data van die Sentrale Energiefonds (CEF) sal petrol, diesel en paraffien in September minder kos as enige ander tyd vanjaar.

Die huidige data dui daarop dat ULP95 met ongeveer 68c/l gaan daal en 63c/l vir ULP93. ’n Afname van sowat 52c/l word ook vir diesel verwag.

‘Dit sal op ’n baie kritieke tyd kom vir Suid-Afrikaners wat dieper in hul sakke delf’

Die ongeouditeerde data dui ook op ’n verlaging in die paraffienprys van ongeveer 78c/l.

“Hierdie dalings, indien dit realiseer, sal die brandstofprys op vlakke bring wat aan die begin van die jaar gesien is en sal op ’n baie kritieke tyd kom vir Suid-Afrikaners wat dieper in hul sakke moes delf om hul voertuie en kostrollies vol te maak,” het Eleanor Mavimbela, AA-woordvoerder, gesê.

Volgens die fonds se data is laer gemiddelde internasionale produkpryse die hoofdryfveer agter die potensiële dalings vir September, met die gemiddelde sterkte van die rand teenoor die Amerikaanse dollar wat ook effens help om ’n positiewe vooruitsig te verdiep.

Laer stabiele brandstofpryse speel 'n deurslaggewende rol in die afname van inflasie, en die prys van goedere en dienste. Dit sal die ekonomie bevoordeel as die brandstofprysdalings verder voortduur. “Dit is natuurlik welkome nuus vir alle Suid-Afrikaners en sal beslis druk op baie huishoudings verlig.

“Die daling in brandstofpryse moet egter nie die behoefte aan 'n hersiening van geadministreerde pryse, insluitend van die brandstofprysformule, wat in Julie deur president Ramaphosa aangekondig is, ontken nie.

‘Hierdie hersiening moet dringend plaasvind’

"Ons doen weer ’n beroep op die hersiening van geadministreerde pryse, insluitend van die brandstofprysformule, wat in Julie deur president Ramaphosa aangekondig is. Hierdie hersiening moet dringend plaasvind in die belang daarvan om langtermyn maniere te vind om brandstofprysverhogings in die toekoms te versag," het Mavimbela afgesluit.

Amptelik aangepaste brandstofpryse tree op Woensdag, 4 September, in werking.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.