On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Business

Laer inflasie steun moontlik September-renteverlaging in Suid-Afrika

───   13:04 Wed, 21 Aug 2024

Laer inflasie steun moontlik September-renteverlaging in Suid-Afrika | News Article
Voedselinflasie is tans op die laagste vlak sedert die hoogtepunt van die pandemie.

“’n Sterker rand, deels danksy Suid-Afrika se nuwe sakevriendeliker koalisieregering, sal waarskynlik risiko’s vir die inflasievooruitsigte verminder en ook die argument vir binnelandse monetêre beleidsverligting ondersteun.”

Jaarlikse verbruikersprysinflasie het van 5,1% in Junie tot 4,6% in Julie gedaal.

Dis die laagste vlak sedert Julie 2021, en ’n haarbreedte van die middelpunt van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se teiken van tussen 3% en 6%.

Die inflasiekoers het tot die laagste vlak in drie jaar gedaal, het Statistieke Suid-Afrika Woensdag op X gesê. Dit gee verbruikers nuwe hoop dat die hardnekkig hoë primakoers eindelik sal afkom.  

Hierdie verlangsaming kan beleidmakers op 19 September moontlik oortuig van ’n laer uitleenkoers. Die monetêrebeleidskomitee het dit op sy laaste vergadering op 8,25% gehou, maar die besluit was nie eenparig nie – vier paneellede het vir die onveranderde standpunt gestem en twee was ten gunste van ’n 25-basispuntvermindering.

’n Sterker rand, deels ondersteun deur Suid-Afrika se nuwe sakevriendeliker koalisieregering, sal waarskynlik risiko’s vir die inflasievooruitsigte verminder en ook die argument vir binnelandse monetêre beleidsverligting ondersteun. Die vooruitsigte vir die plaaslike geldeenheid kan verbeter as die Federale Reserweraad Amerikaanse rentekoerse verlaag.

Die grootste bydraers tot die verlangsaming in inflasie in Julie was ’n afname in die goedere-inflasiekoers tot 4,6% van 5,5%, het Statistieke Suid-Afrika in ’n verklaring gesê. Kerninflasie, wat voedsel en niealkoholiese drank, brandstof en energie uitsluit, het met 4,3% gestyg, vergeleke met 4,5% in Junie.

Laer brandstofpryse in Julie het gehelp om vervoerkoste te verminder, berig News24. Voedselpryse en niealkoholiesedrankpryse het verder van 4,6% in Junie tot 4,5% in Julie verlangsaam.


Voedselinflasie is aansienlik laer ná ’n hoogtepunt van 9% in November verlede jaar en die laagste sedert die hoogtepunt van die pandemie, in September 2020. Vleispryse was in Julie 0,4% goedkoper as in Junie – en net 1% hoër as ’n jaar gelede. Statistieke SA sê vleis verteenwoordig meer as ’n derde van huishoudelike besteding aan voedsel.

Terwyl brood- en koekmeel, sowel as pasta, nou goedkoper is as ’n jaar gelede, was rys (21% meer), pizza (12%), pasteie (12%) en stampmielies (7%) veel duurder. Kitskoffie (22%), swarttee (16%), gemaalde koffie en koffiebone (15%), asook rooibostee (11%) het verbruikers ook heelwat meer uit die sak gejaag as in Julie verlede jaar.

Statistieke SA sê water het die afgelope jaar met gemiddeld 9,9% gestyg, gevolg deur krag (9,5%) en eiendomstariewe (6,6%).

OFM Nuus cg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.