On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Business

ActionSA loods veldtog weens rioolinfrastruktuur

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:28 Mon, 13 May 2024

ActionSA loods veldtog weens rioolinfrastruktuur | News Article
Foto: ActionSA

“Weens die mislukte regering word die land se mense aan hierdie haglike omstandighede blootgestel.”

Ál meer Suid-Afrikaners moet daagliks tussen hul eie riool, wat in strate en selfs in hul huise is, leef.

“Weens die mislukte regering word die land se mense aan hierdie haglike omstandighede blootgestel,” sê Herman Mashaba, ActionSA-leier. Daarom het die party Maandag (13/5)  ’n landwye veldtog onder Mashaba se leiding geloods oor die landwye ineenstorting van rioolinfrastruktuur en hoe om praktiese oplossings daarvoor aan te bied.

Michael Beaumont, ActionSA se nasionale voorsitter, het die dringendheid van die veldtog beklemtoon en verwys na die ontstellende werklikheid dat baie gemeenskappe met daaglikse riooloorstromings in hul strate en huise moet saamleef.

Herman Mashaba, ActionSA-leier. Foto verskaf

“Hierdie situasie besoedel nie net grondwater, riviere en kuslyne nie, maar veroorsaak uitbrekings van cholera en die ineenstorting van plaaslike toerisme. In 2015 het 7,4 miljoen toeriste eThekwini (Durban) besoek en teen 2023 het hierdie getal tot 800 000 gedaal,” sê Beaumont.

Beaumont sê die doel van die “The Shitty Tour” is om die waarheid te onthul wat deur die regering se mislukkings verduister is, en lig te werp op die lot van baie Suid-Afrikaners wat gedwing word om tussen hul eie afval te woon.

Foto: ActionSA

Die toer sal begin deur onder meer gevalle van die ineenstorting van die rioolinfrastruktuur in Kaapstad, Oos-Londen, Makhanda en Welkom te ondersoek en die verskillende maniere wys hoe dit die lewens van landsburgers raak.

Hy beklemtoon ActionSA se verbintenis om hierdie dringende krisis aan te spreek deur te pleit vir strenger toesig oor munisipaliteite, wat die primêre skuldiges in die voortsetting van die landwye rioolprobleem is.

Beaumont noem dat munisipale begrotings infrastruktuurvernuwing, herstelwerk en instandhouding moet prioritiseer, en provinsies moet toesig hou oor die opbrengs op belegging wat uit hierdie besteding verkry word.

Michael Beaumont, ActionSA se nasionale voorsitter. Foto verskaf

“Die Grondwet … waarborg elke Suid-Afrikaner die reg op waardigheid, gesondheid, skoon water, ’n skoon omgewing en ekonomiese ontwikkeling. Hierdie mislukking van munisipaliteite om riool-infrastruktuur te bestuur maak duidelik inbreuk op hierdie regte van meer Suid-Afrikaners op ’n daaglikse basis,” voeg hy by.

ActionSA sal volgens Beaumont die toer onderneem om praktiese voorstelle te bied vir die oplossing van Suid-Afrika se riool-infrastruktuurprobleme. “Ons sal dit doen in ’n omgewing waar geen ander party hierdie belangrike kwessie op die voorgrond van hul agendas plaas nie.”

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.