South Africa
Tweede mens binne week in Krugerwildtuin doodgetrap─── MORNÉ VAN ROOYEN 11:26 Sun, 26 Jan 2025
Sanparke stel ondersoek in nadat ’n olifant ’n man in die Krugerwildtuin doodgetrap het.
Anders as ’n week gelede toe ’n vermeende stroper sy lewe verloor het in ’n seekoei-aanval, was dit dié ’n keer ’n toeris wat om die lewe gebring is.
Die olifant het die man Saterdag (25/1) bestorm en doodgetrap naby die Krokodilrivier by die Malelane-hek in die suide van die wildtuin, sê JP Louw, Sanparke-kommunikasiehoof, en Isaac Phaahla, Krugerwildtuin-kommunikasie-en-bemarkingsbestuurder, in ’n gesamentlike verklaring.
Sanparke-beamptes het hulle na die toneel gehaas en bystand aan die slagoffer se familie gebied. Geen nadere besonderhede is bekendgemaak nie. Die ondersoek duur voort.
Die Krugerwildtuin huisves meer as 31 000 olifante. Foto: Facebook/South African National Parks
Sosialemediagebruikers beweer die slagoffer was ’n oupa, wat sy kleinkinders probeer beskerm het toe ’n olifant hulle bestorm terwyl hulle toilette besoek het in ’n gebied wat veilig behoort te wees vir motors om te parkeer. Sanparke het nog nie op navrae oor dié bewerings gereageer nie.
“Weens die sensitiwiteit van die saak vra ons dat die publiek nie foto’s of video’s van die voorval (op sosiale media) versprei nie,” lui die gesamentlike verklaring. “Sanparke se raadslede en bestuur betuig hul innige meegevoel met die slagoffer se familie en vriende.”
Die polisie het ’n soortgelyke versoek gerig nadat die vermeende stroper Sondagnag doodgetrap is. Sosialemediagebruikers het foto’s gedeel van sy liggaam waar dit langs die pad in die Pretoriuskop-ruskamp gelaat is.
Gereelde seekoei-aanvalle
’n Toeris het die oggend op sy liggaam afgekom en die wildtuin se bestuur in kennis gestel, het Phaahla gesê. Sy makkers hom na bewering daarheen gedra.
Volgens onbevestigde berigte het drie vermeende stropers die wildtuin daardie nag onwettig binnegegaan om ’n misdaad te pleeg. “Hulle is vermoedelik deur ’n seekoei aangeval, en een is noodlottig beseer,” lui Sanparke se mediaverklaring.
• In Augustus 2023 het ’n seekoei vir Kobus de Wet, ’n senior ondersoeker van Sanparke se eenheid vir omgewingsmisdaad, in ’n afgeleë deel van die wildtuin gedood terwyl hy saam met ander mense kampeer en visgevang het.
Freek en Rinza Venter. Foto: Facebook
• In Julie verlede jaar het Rinza Venter (67) ’n nagmerrie-ervaring gehad toe ’n woedende seekoeibul haar in die noorde van die wildtuin gebyt en getrap het.
Die dier het haar, haar man, dr. Freek Venter (71), en ’n span navorsers helder oordag bestorm. Die seekoei het die aftog geblaas toe ’n veldwagter op hom skiet. Venter is in die waakeenheid van Mediclinic Tzaneen opgeneem.
• Die maand vantore is drie werknemers van die Werk vir Water-projek deur ’n seekoei bestorm en aangeval terwyl hulle indringerplante om die Sabierivier verwyder het. Die seekoei het terug in die rivier ingevlug nadat twee veldwagters skote geskiet het.