South Africa
Staatsrede 2025: ‘Ons sal nooit weer gedwonge verskuiwings toelaat’─── 15:38 Thu, 13 Feb 2025
![Staatsrede 2025: ‘Ons sal nooit weer gedwonge verskuiwings toelaat’ Staatsrede 2025: ‘Ons sal nooit weer gedwonge verskuiwings toelaat’ | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/f552dd71-891f-4cbd-8279-b2e4dfce6e29.jpg?crop=0,138,600,476)
Pogings om vrese oor grondonteiening te weerlê is Donderdagmiddag (13/2) in die parlement aangehoor in pres. Cyril Ramaphosa se repliek op die tweedaagse debat oor sy staatsrede.
“Talle sprekers het tydens hierdie debat gepraat oor die grondvraagstuk, wat ek in die verlede gesê het die oorspronklike sonde is wat teen die mense van ons land gepleeg is.
“Die mense van hierdie land ken die pyn van gedwonge verskuiwings. Daarom sal ons nooit weer gedwonge verskuiwings toelaat nie. Daarom het ons ’n Grondwet wat die arbitrêre ontneming van eiendom verbied.”
Die president het verlede week sy staatsrede aan ’n gesamentlike sitting van albei huise van die parlement voorgelê. Die afgelope twee dae het politieke partye daaroor gedebatteer.
Ramaphosa het repliek op die debat gelewer en alle lede bedank vir hul bydraes. Hy sê dit illustreer die gevare daarvan om na jou hoekie terug te trek, “om onsself te isoleer in ideologiese, kulturele, rasse- en taalenklaves en amper nooit buite ons onmiddellike kringe betrokke te raak nie”.
“As Suid-Afrikaners het ons om die onderhandelingstafel gesit en ooreenkomste onder baie moeiliker en belaaide omstandighede bereik.
“Die reis wat ons nou aanpak deur die nasionale dialoog, sal lei tot konkrete prosesse om ’n hegter en sterker Suid-Afrika tot stand te bring in die aangesig van baie politieke, sosiale en ekonomiese uitdagings, buitelands sowel as binnelands.
“Hierdie Suid-Afrika is gebou deur die land se eie mense wat probeer het om hul lewe te verander. Hulle het die rentmeesterskap van hierdie proses aan ons almal toevertrou en nie net aan sommige nie.”
Hy sê hulle bou voort op werk wat in vorige jare gedoen is en dat daar baie debat was oor wette wat deur die vorige administrasie goedgekeur is, met verwysing na die Onteieningswet, die NGV-wet en Bela.
“Die parlement is ’n reservoir van wysheid en ons moet trots wees daarop dat ons ’n demokrasie is wat wette goedkeur en nie die arbitrêre grille van ’n heerser nie.” Hy sê dat hy moet instem tot wetsontwerpe wat deur die parlement aanvaar is as die wetsontwerp grondwetlik is en dit nie kan keer op grond van ooreenkomste tussen partye nie.
Ná sy toespraak sou die president na Pretoria reis om die amptelike seremonie te lei ter ere van die soldate wat in die onlangse gevegte tussen die Demokratiese Republiek die Kongo se weermag en M23-rebelle in die kruisvuur vasgevang was. Die tragiese voorval, wat byna twee weke gelede plaasgevind het, het die lewens van 14 soldate geëis.
Hul naasbestaandes sou na verwagting Donderdag (13/2) hul oorskot op die Swartkop-lugmagbasis in Centurion ontvang.
Die repatriasie van hul liggame is vertraag, wat traumaties vir hul treurende naasbestaandes was. Angie Motshekga, minister van verdediging en militêre veterane, het verklaar dat al die offisiere ter ruste gelê sal word met volle militêre eerbewysd.
OFM Nuus mvh