South Africa
Sielkundige evaluasie vir Kimberliet wat glo ouma onthoof─── ZENANDE MPAME 14:56 Wed, 12 Feb 2025
![Sielkundige evaluasie vir Kimberliet wat glo ouma onthoof Sielkundige evaluasie vir Kimberliet wat glo ouma onthoof | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/731dba78-63ab-4e1e-ac60-cb8b514e08ad.png?crop=0,0,600,338)
Die man (35) wat na bewering sy ouma (76) onthoof het, sal op Donderdag 27 Maart weer in die Kimberley-landdroshof verskyn vir ’n psigiatriese evaluasie om sy geestestoestand te bepaal.
Daniel Louw (35) bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning nadat hy Vrydag (7/2) in die landdroshof verskyn het.
Hy het na bewering op Vrydag (24/1) met ’n mes en ’n staalpyp by sy ouma se huis opgedaag terwyl sy en sy seun reggemaak het om te gaan slaap. Hy het op die dak geklim en oor die huis geloop voordat hy binnetoe is.
“Binne het hy glo sy ouma trompop geloop en op tee en suiker aangedring,” sê Mojalefa Senokoatsane, Noord-Kaapse NVG-woordvoerder.
‘Polisiebeamptes het haar op die eetkamervloer aangetref’
“Hy het haar toe glo met ’n panga deur die gesig geslaan. Haar agterkleinseun het buitentoe gehardloop om hulp te kry, en toe hy terugkeer, het hy sy oumagrootjie ernstig beseer aangetref.” Familielede het later op die oorledene se onthoofde liggaam in haar huis afgekom.
Louw is vier dae daarna in hegtenis geneem nadat hy glo teenoor haar dogter erken het dat hy die moord gepleeg het. Polisiebeamptes het haar op die eetkamervloer aangetref toe hulle omstreeks 07:00 die oggend van die moord by die huis opdaag, sê Sergio Kock, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder.
June Kganyege, die oorledene se dogter, het aan die SAUK gesê sy is verpletter deur haar ma se dood. “Die situasie is hartverskeurend, maar (die beskuldigde) moet sy lot aanvaar en sy vonnis uitdien, want hy het ook aan die polisie bely.”
Daniel Louw bly intussen in aanhouding ná sy hofverskyning Vrydag.