On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Nadine
Listen Live Streams

South Africa

Verdeelde regering stel begrotingsrede uit tot Maart

───   15:22 Wed, 19 Feb 2025

Verdeelde regering stel begrotingsrede uit tot Maart | News Article
Foto ter illustrasie

Suid-Afrika se nasionale begrotingsrede, wat Woensdagmiddag (19/2) gelewer sou geword het, is tot Maart uitgestel weens ’n gebrek aan steun.

Thoko Didiza, speaker van die Nasionale Vergadering, het die ongekende vertraging aangekondig en gesê dis die eerste keer in meer as 30 jaar dat begrotingsverrigtinge uitgestel word. 

Enoch Godongwana, minister van finansies, sou die begroting om 14:00 voorgelê het.

Meningsverskille heers luidens berigte in die regering van nasionale eenheid (RNE) oor ’n voorgestelde BTW-verhoging van twee persentasiepunte. BTW is tans op 15% en ’n verhoging van 2% sal volgens sommiges ’n verwoestende impak op Suid-Afrikaanse verbruikers hê.

Didiza het aan LP’s gesê sy het besluit om die tertafellegging van die begroting uit te stel toe dit duidelik geword het dat geen ooreenkoms deur partye in die RNE bereik sal word nie.

Ramaphosa het ’n kabinetsvergadering voor die sitting belê om kwessies en bekommernisse met politieke leiers uit te stryk. Dit volg ’n patroon waar die president die RNE-vennote byeenroep om besluite en toesprake in lyn te bring met die koalisie se prioriteite.

Na wat verneem word, kon partye nie saamstem oor die voorgestelde verhoging nie.

Vincent Magwenya, woordvoerder van die presidensie, sê Ramaphosa het die vergadering belê, wat meer as net die DA ingesluit het. Volgens bronne het DA-leiers in die kabinet, insluitend John Steenhuisen, die partyleier, Godongwana ingelig hulle sal nie die begroting ondersteun as BTW verhoog word nie.

Dit plaas die ANC in ’n ongewone posisie nadat hy sy parlementêre meerderheid in verlede jaar se verkiesing verloor het, aangesien hy nou op koalisiesteun staat maak om die begroting deur te voer.

Dit is ’n belangrike oomblik in Suid-Afrika se postapartheid- politieke geskiedenis, aangesien geen begroting sedertdien afgekeur is nie.

Steenhuisen bestempel die uitstel as “’n oorwinning vir die mense van Suid-Afrika, aangesien dit (die BTW-verhoging) ons ekonomie sou geknak het. Die uitstel is die gevolg van die DA se standvastige teenkanting teen die ANC se plan om BTW te verhoog op ’n tydstip wanneer miljoene Suid-Afrikaners reeds onder ’n lewenskostekrisis gebuk gaan.”

Hy sê die begrotingsrede is uitgestel weens die ANC, en spesifiek Godongwana, se versuim om ernstig in gesprek te tree oor die DA se alternatiewe voorstelle. “Nadat ons die ANC se BTW-verhogingsplan gestuit het, sal ons nou met dieselfde ywer veg vir ’n nuwe begroting wat toegespits is op ekonomiese groei pleks van belastingverhogings of skuldverhoging.”

Steenhuisen sê vandag se uitstel getuig van die DA se invloed in die RNE.

“Vir die eerste keer ooit is die ANC verhoed om ’n begroting in te dien wat ekonomiese groei belemmer. Nou is dit tyd om ’n mislukte ANC-BTW-begroting te vervang met ’n nuwe RNE-groeibegroting.”

Suid-Afrika se rand het verswak nadat die parlement die voorlegging van die jaarlikse begroting uitgestel het, ’n ongekende besluit wat toenemende spanning in die land se koalisieregering beklemtoon het. 

Die rand het verswak in reaksie op die uitstellery en ’n vroeëre daling verleng. Dit het met tot 1% verswak tot R18,5892 teen die dollar teen 14:32. Teen 15:40 het effens herstel tot R18,54.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.