South Africa
DA verklaar geskil oor Onteieningswet, NGV─── 11:37 Sun, 26 Jan 2025
Die DA het ’n geskil binne die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) verklaar oor die bekragtiging van die Onteieningswet en die insluiting van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in die regering se mediumtermynplan.
John Steenhuisen, DA-leier, het dié aankondiging Saterdag (25/1) gedoen op ’n mediakonferensie wat hy in Kaapstad belê het, en beklemtoon dat hierdie stappe noodsaaklik is om die RNE se funksionering en stabiliteit te beskerm.
Die party meen sewe maande gelede het die RNE hoop gebring toe die DA en ANC ’n samewerkingsooreenkoms onderteken het, wat gelei het tot pres. Cyril Ramaphosa se verkiesing op 14 Junie. Die ooreenkoms was bedoel om kragte saam te span en Suid-Afrika op te bou ná dekades van wanbestuur en korrupsie.
“Die RNE weerspieël die wil van die mense, wat duidelik gesê het dat politieke partye moet saamwerk om Suid-Afrika op te bou. Die DA het ons deel gedoen. Portefeuljes onder DA-beheer het reeds meer in sewe maande bereik as die ANC in 30 jaar,” het Steenhuisen gesê.
Verbrokkeling in verhoudings
Volgens Steenhuisen het die ANC egter onlangs sy verbintenis tot die ooreenkoms begin minag. Hy verwys spesifiek na Ramaphosa se uitsprake tydens die ANC se 8 Januarie-verklaring dat “die ANC steeds in beheer is,” al het die party nie ’n meerderheid in die verkiesing behaal nie.
“Dit is nie net ’n bewys van arrogansie nie, maar ook ’n verraad van die gees van ons ooreenkoms,” het Steenhuisen gesê.
Hy het voorts aangevoer die ANC het die Onteieningswet bekragtig ten spyte van DA-minister Dean MacPherson se ernstige grondwetlike besware, en dat Ramaphosa geweier het om met sy koalisievennote oor die NGV-wet oorleg te pleeg.
Ernstige stappe gedoen
Steenhuisen het bevestig dat hy ’n formele beroep op art. 19 van die RNE-ooreenkoms gedoen het. Dit bepaal prosedures om meningsverskille tussen partye te hanteer.
Hy het ook benadruk die DA sal nie toelaat dat die party tot “toeskouers” in die RNE gereduseer word nie. “Ons is hier om ons kiesers te verteenwoordig en Suid-Afrika te red.”
Die DA sal nou ander koalisievennote betrek om ’n hernude verhouding binne die RNE te verseker. “Suid-Afrika verdien ’n werkende koalisie waar partye mekaar met respek behandel en oplossings vind vir die land se dringende probleme,” het Steenhuisen afgesluit.
OFM Nuus dg/mc