South Africa
André de Ruyter van Yale na klimaatorganisasie─── 14:11 Fri, 24 Jan 2025
Eskom se vorige uitvoerende hoof begin ’n nuwe hoofstuk in sy loopbaan wanneer hy die arena van klimaatverandering en volhoubare ontwikkeling betree.
André de Ruyter is aangestel as direkteur by Verra, die wêreld se voorste maatstafbepaler van klimaatsoptrede en volhoubare ontwikkeling.
Dié organisasie sonder winsoogmerk, met sy hoofkantoor is in Washington, DC, sertifiseer vrywillige koolstofneutralisasie en bepaal die reëls en vereistes vir koolstofkredietprojekte ter wille van meetbare uitkomste.
André de Ruyter. Foto: Reuters
De Ruyter het Eskom in Februarie 2023 verlaat ná ’n opspraakwekkende onderhoud waarin hy wydverspreide misdaad en korrupsie by die kragvoorsiener aan die lig gebring het, berig Business Tech.
Hy is landuit uit vrees vir sy eie veiligheid, nadat hy bewerings oor hooggeplaaste politici en kriminele sindikate se plundering van Eskom in sy boek, Truth to Power, gemaak het. Hy is later daardie jaar aan die Yale-universiteit aangestel as ’n senior gasdosent vir die akademiese jaar 2023/2024.
Senior gasdosente is toonaangewende praktisyns in wêreldsake wat kursusse aanbied en studente mentor.
‘Kan ervaring en kennis aanwend in die groenkragbedryf en beleidsomgewing’
Yale het spesifiek gevra dat De Ruyter lesings oor sy groenkragprogram vir Eskom aanbied, berig Netwerk24. “Dit is ’n groot voorreg om by Yale skool te gee. Ek vind dit geweldig stimulerend,” het hy destyds gesê.
Sy aanstelling by Verra beteken hy kan sy ervaring en kennis aanwend in die groenkragbedryf en beleidsomgewing.
De Ruyter het verlede jaar laat blyk sy toekomsplanne sluit in om na Suid-Afrika terug te keer en moontlik nóg ’n boek te skryf.
André de Ruyter. Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch
“Suid-Afrika is die plek waarheen ek wil terugkeer wanneer die situasie dit regverdig. Dit is my langertermynplan.”
Sy plan vir ’n nuwe boek sal handel oor die moontlikheid om aansienlike kapitaalvloei van die globale noorde na die globale suide te ontwikkel. “Hierdie geld behoort ontwikkelende ekonomieë in die globale suide, soos Suid-Afrika, in staat te stel om met ’n lae koolstofvrylating ekonomies te groei.
De Ruyter stel veral belang in klimaatsfinansiering en hoe dit op ontwikkelende ekonomieë toegepas kan word. “Die manier waarop die globale finansiële stelsel gestruktureer is, maak dit moeilik om in projekte in ontwikkelende ekonomieë in die suide te belê,” sê Verra op sy webtuiste.
OFM Nuus mvh