South Africa
Politieke vyande staan saam teen Onteieningswet─── 12:50 Fri, 24 Jan 2025
Verskeie politieke partye maak hul stem dik en dreig met regstappe nadat pres. Cyril Ramaphosa wetgewing onderteken het wat onteiening sonder vergoeding wettig.
Kommer heers oor die uitwerking daarvan op grondhervorming en eiendomsreg.
Die wet herroep die verouderde Onteieningswet van 1975, wat nie die demokratiese waardes van die Suid-Afrikaanse Grondwet weerspieël het nie, berig BusinessTech.
Die DA verwerp die nuwe wet. “Terwyl die DA erken dat die Grondwet regstellings- en restitusiehandelinge toelaat, insluitend grondhervorming,” sê Willie Aucamp, nasionale DA-woordvoerder, “het ons ernstige bedenkinge oor die prosedure sowel as belangrike substantiewe aspekte van die wetsontwerp.
“Ons is in gesprek met ons regspan om ons saak te formuleer.”
Willie Aucamp, nasionale DA-woordvoerder. Foto: Melinda Stuurman/Netwerk24
ActionSA oorweeg ook regstappe, sê Lerato Ngobeni, parlementêre hoofsweep. “Grondhervorming is haalbaar binne bestaande wetgewende en wetlike raamwerke, maar vereis toegewyde politieke leierskap wat verbind is tot billike verdeling van eienaarskap.
“Behoorlik bestuur, is grondhervorming van kardinale belang om opkomende swart boere en grondeienaars te bemagtig, werk in die landbousektor te skep en voedselsekerheid te verbeter. Ongelukkig bestaan sulke politieke leierskap nie in die huidige regerende koalisie nie,” sê sy.
Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê: “Almal in Suid-Afrika en in enige demokratiese bestel het die reg om eiendom te besit en die staat het geen reg om dit te onteien sonder vergoeding nie.”
VF Plus wil ongrondwetlikheid van wet wysig
“Die VF Plus sal die grondwetlikheid van die wet in die Grondwethof betwis. Sou dit ongrondwetlik bevind word, sal die VF Plus as lid van die Regering van Nasionale Eenheid en kabinet alles in die stryd werp om ’n wysigingswetsontwerp deur die kabinet te voer om die ongrondwetlikheid daarvan te wysig.”
AfriForum wil buitelandse aandag op die vraagstuk vestig om ondersteuning te kry vir die beskerming van eiendomsreg in Suid-Afrika. “Ons sal hierdie stryd voer totdat geregtigheid geskied,” sê Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge.
LEES OOK: AfriForum gereed om regstappe te doen teen onteiening sonder vergoeding
Leigh-Ann Mathys, nasionale EFF-woordvoerder, het aan The South African gesê die party is diep bekommerd oor die wetsontwerp. “Dit bied geen betekenisvolle verandering om Suid-Afrika se dringende grondvraagstuk die hoof te bied nie.”
Ernst van Zyl, Afriforum. Foto: X
Sy waarsku ook teen ’n “kreatiewe interpretasie” van die wet, naamlik dat vergoeding vir sekere onteieningsgevalle nul kan wees.
“Die wetsontwerp lys spesifieke omstandighede, soos grond vir spekulasiedoeleindes, grond wat verlate is of grond wat gesondheidsgevaaar inhou, wat vergoeding moontlik uitskakel. Dit beteken eintlik slegs grond met min waarde kan sonder vergoeding onteien kan word, maar eienaars sal steeds die reg hê om onteieningspogings te betwis.
‘Parlementswet kan nie Grondwet ignoreer’
“’n Blote Parlementswet kan nie die Grondwet ignoreer nie,” sê sy.
Die MK-party verwerp ook die wet en het dit as “doelbewuste, verskanste diefstal” bestempel wat met “die aankoms van Jan van Riebeeck op 6 April 1652 begin het,” sê Nhlamulo Ndhlela, die party se nasionale woordvoerder op PoliticsWeb.
“Deur die onteiening voor 1913 uit te sluit, verseker hierdie wetsontwerp dat die gesteelde grond van ons voorouers in die hande van koloniale begunstigdes bly.”
Dr. Joan Swart, uitvoerende lid van die Cape Independence Advocacy Group. Foto: LinkedIn
Dr. Joan Swart, uitvoerende lid van die Cape Independence Advocacy Group, sê “die Onteieningswet tref die hart van ons ekonomiese vryhede en bedreig die fondament van voorspoed deur eiendomsregte te ondermyn. Dit is nie vooruitgang nie; dit is ’n tree terug vir alle Suid-Afrikaners.”
Sy sê die onderskeid tussen hierdie wet en die wysiging van Art. 25 van die Grondwet moet duidelik deur almal verstaan word. “Terwyl die wysiging poog om onteiening sonder vergoeding op grondwetlike vlak te wettig, bied die (Onteieningswet) die prosedurele raamwerk om hierdie beleid uit te voer.
“Albei is stappe in die verkeerde rigting vir ’n nasie wat na ekonomiese vryheid en welvaart streef.”
‘Cosatu verwelkom ‘gelyke toegang tot grond’
Die vakverbond Cosatu het egter die wet verwelkom en dit op sy webwerf as ’n “historiese oorwinning vir die werkersklas, die onteiendes en die verdruktes bestempel.”
“Dit bespoedig pogings om te verseker dat alle Suid-Afrikaners gelyke toegang tot grond, water en ander natuurlike hulpbronne het,” sê Matthew Parks, parlementêre koördineerder. Hy wys daarop dat grond steeds oorweldigend deur “wit mans besit word”.
“Miljoene swart en bruin mans en Suid-Afrikaanse vroue bly grondloos. Dit ontneem miljoene plattelanders, plaaswerkers en huurders van regmatige geleenthede om grond te bewerk en te besit en by te dra tot voedselsekerheid en die vermindering van werkloosheid.”
OFM Nuus mvh