On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

South Africa

Jong Bloemfonteinse wetenskaplike in Taiwan vir navorsing, projek

───   KAREN VAN DER BERG 14:19 Tue, 21 Jan 2025

Jong Bloemfonteinse wetenskaplike in Taiwan vir navorsing, projek | News Article
Jana Swanepoel is slegs een van twee leerlinge in Suid-Afrika wat deurgedring het na die internasionale ekspo vir jong wetenskaplikes. Hier is sy by haar projek. Foto verskaf

Hy is baie trots op haar prestasies, maar wat vir hom selfs wonderliker is, is haar passie vir die natuur en in besonder plante.

So sê prof. JW Swanepoel oor sy dogter, Jana (14), se prestasie. Sy is een van slegs twee Suid-Afrikaanse leerlinge wat gekies is om aan die internasionale ekspo vir jong wetenskaplikes in Taiwan deel te neem. 

Jana is ’n gr.9-leerling aan die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein. Meer as 600 jong wetenskaplikes uit alle wêrelddele neem nog tot Saterdag (25/1) aan die week lange kompetisie in Taipei deel.

‘Inspirasie en groen vingers kom van ’n jong ouderdom af’

Oor haar projek – Plantastic Pods: The grow stick rooting revolution for seeds and cuttings – sê Jana sy het ’n superkoel manier ontwikkel om plante te help groei. “My projek het gefokus op die ontwikkeling van ’n oplossing om op ’n innoverende en positiewe manier saadontkieming en die groei van steggies te bespoedig.”

Sy het dit gedoen met verskeie kombinasies van kunsmis en ander produkte, waarna sy ’n groeimedium geïdentifiseer het.

Haar inspirasie en groen vingers kom van ’n jong ouderdom af. “Ek het van kleins af saam met my pa met plantjies geëksperimenteer.”

‘’n Komplekse wisselwerking tussen plante en hul omgewing’

Swanepoel is juis die hoof van ontwikkeling aan van volhoubare voedselstelsels en ontwikkeling aan die Universiteit van die Vrystaat. Jana se oupa het ook gereeld vir haar steggies gebring wat sy moes laat groei en dan verkoop het.

“Ek het dikwels gefrustreerd gevoel oor hoe stadig sade ontkiem en hoe stadig steggies wortels maak.”

Vir Jana is die wonderlikste ontdekking om waar te neem hoe uniek die natuur is. “Daar is ’n komplekse wisselwerking tussen plante en hul omgewing. Die kleinste dingetjie kan ’n impak op die groei van ’n plant hê.”

Jana Swanepoel is mal oor die natuur en het geleer om met nuwe oë daarna te kyk. Foto verskaf

Die natuur het haar oë oopgemaak om fyner na die natuur te kyk. “Ek het ook meer oor die wetenskaplike metode geleer. Ek weet nou hoe om data te versamel en dit te analiseer om by ’n gevolgtrekking te kom. “

Haar belangstelling in plantkunde is behoorlik aangewakker en sy sien uit daarna om dieper te elf en by te dra tot voedselsekerheid.

OFM Nuus/Karen van der Berg mvh


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.