South Africa
Vermeende vakansie-swendelaar bly in aanhouding─── ZENANDE MPAME 13:15 Tue, 11 Feb 2025
![Vermeende vakansie-swendelaar bly in aanhouding Vermeende vakansie-swendelaar bly in aanhouding | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/a4665a17-26ac-4b5e-81a9-0d68bdc85110.jpg?crop=0,17,779,455)
Die vermeende vakansie-swendelaar verskyn Maandag (17/2) weer in die Randburgse landdroshof vir sy borgaansoek in verband met nóg ’n bedrogsaak waar vakansiegangers glo bedrieg is.
Francois Swart (40) het Maandag (10/2) in voorgekom op ’n bedrogklag en bly in aanhouding. Dit was reeds sy vierde inhegtenisneming weens bewerings dat hy kliënte met vakansiepakkette mislei het.
Swart, besturende direkteur van Priority Escapes, is weer in hegtenis geneem toe hy Vrydag (7/2) die hof verlaat, waar hy reeds op ’n ander bedrogsaak verskyn het.
“(Ons) verteenwoordig Ruan Kruger en Louis André Botha, wat derduisende rande vir luukse vakansies betaal het, maar nooit die wit strande en helderblou see gesien het wat aan hulle beloof is nie,” sê Barry Bateman, woordvoerder van Afriforum se private vervolgingseenheid.
“Hierdie inhegtenisneming bring die totale sake waarin ons betrokke is, op vier te staan. Die beskuldigde het glo volle betaling van die klaers ontvang om hul vakansiereëlings te tref.”
Volgens Bateman is die bedrog verder gevoer deurdat Swart dokumente uitgereik het waarin voorgegee is dat die vakansies gereël en ten volle betaal is. Intussen is bevestig dat dié dokumente vervals is.
Swart se saak in die Randburgse hof is tot Dinsdag 4 Maart uitgestel, terwyl hy op Woensdag 2 April in die Palm Ridge-landdroshof sal verskyn ná sy vroeëre vrylating op R10 000 borgtog.
Hy het glo vakansiepakkette vir reise na die Maledive verkoop, en kliënte het betalings in Priority Escapes se rekening gemaak. Die reisagentskap het egter ophou funksioneer en kliënte het eers op die dag van hul beplande reis besef dat hulle nie sal vertrek nie en óók nie terugbetalings sal ontvang nie.
Klagtes op Hello Peter
Volgens News24 het Swart teleurgesteld en amper in ongeloof gelyk toe die hof beveel het dat hy nog ’n week in aanhouding bly. Trane het oor sy wange gerol terwyl hy met die trap af is na die aanhoudingselle.
Die vermeende vakansie-swendelaar het reeds in 2023 opslae gemaak toe hy kliënte ingelig het dat sy onderneming nie sy skuld kon delg nie, wat mense se betaalde oorsese vakansies in die wiele gery het.
Verskeie voornemende vakansiegangers kla op die webtuiste Hello Peter oor hoe hulle deur Priority Escapes bedrieg is en het selfs regstappe oorweeg teen die maatskappy.