On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

South Africa

Valke neem verdagte in hegtenis ná uitlek van matriekuitslae

───   09:26 Fri, 17 Jan 2025

Valke neem verdagte in hegtenis ná uitlek van matriekuitslae | News Article
Nasionale Senior Sertifikaat. Foto ter illustrasie

Die direktoraat van prioriteitsmisdaadondersoeke, bekend as die Valke, het ’n 21-jarige verdagte in hegtenis geneem omdat hy na bewering die 2024-matriekuitslae aanlyn uitgelek het.

Die inhegtenisneming is Donderdag gedoen nadat die departement van basiese onderwys ’n amptelike klag in Pretoria gelê het. Die saak is na die Valke oorgeplaas vir verdere ondersoek. 

“Ons is dankbaar teenoor die staatsveiligheidagentskap en Valke vir hul spoedige reaksie en ondersoek,” het Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, gesê nadat sy Maandag vir vinnige polisieoptrede gevra het ná die bewerings dat die uitslae verkoop is.

Die verdagte is ook in aanhouding weens die onwettige besit van ’n vuurwapen.

Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê hul eenheid vir ernstige ekonomiese misdrywe en hoofkantoor vir kubermisdaadondersoek het Donderdag ’n deursoekings- en beslagleggingslasbrief by ’n woning in Hillcrest, noord van Johannesburg, uitgevoer.

Die 21-jarige verdagte en sy ouers was by die huis. Tydens die soektog is verskeie elektroniese toestelle en ’n ongelisensieerde haelgeweer met  skerppunt-ammunisie gevind.

Die ondersoek duur voort.

OFM Nuus cg/mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.