On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Staatsrede 2025: ‘Suid-Afrikaners moet wys wat hulle saam kan bereik’

───   10:19 Fri, 07 Feb 2025

Staatsrede 2025: ‘Suid-Afrikaners moet wys wat hulle saam kan bereik’ | News Article
Die vorming van ’n regering van nasionale eenheid bied ’n geleentheid vir Suid-Afrikaners om te wys wat bereik kan word wanneer almal saamwerk. Foto: X

Suid-Afrikaners is genooi om te verenig in ’n langverwagte nasionale dialoog om ’n visie vir die land se volgende 30 jaar te definieer.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand (6/2) in sy staatsrede beklemtoon dat die vorming van ’n regering van nasionale eenheid ’n geleentheid vir Suid-Afrikaners bied om te wys wat bereik kan word wanneer almal saamwerk. 

“Terwyl ons dalk oor baie kwessies verskil, stem ons oor een ding saam, dat ons ’n beter Suid-Afrika moet bou en die welstand van ons mense moet verbeter. Ons moet dit nie doen deur op die kantlyn te sit en skree nie. 

“Ons moet in die skrum wees en saam werk om die lewens van ons mense te ontwikkel.”

Terwyl die nasionale dialoog oorspronklik vir verlede Desember beplan is, het Ramaphosa nie ’n nuwe datum verskaf nie. Hy het egter gesê dat die platform gebruik moet word om oplossings te vind wat ’n werklike verskil in mense se lewens sal maak.

Meerendeels positiewe terugvoer is ontvang ná Suid-Afrika se eerste staatsrede sedert die stigting van ’n regering van nasionale eenheid (RNE) nadat die ANC in verlede jaar se verkiesing sy meerderheidsteun verloor het. Die meeste van die ANC se RNE-vennote is tevrede, want dit is die eerste keer dat al tien partye se manifes in die RNE ingesluit is.

In ’n verklaring wat uitgereik is pas nadat Ramaphosa sy uur lange toespraak aan die nasie gelewer het, sê John Steenhuisen, DA-leier, sy party se manifes was deurlopend in vanjaar se staatsrede teenwoordig. Die DA-leier sê hul doelwitte van nasionale regering tot munisipale vlak is in die staatsrede vervat.


Ramaphosa het ure voordat hy sy staatsrede gelewer het ’n virtuele vergadering belê waar hy die finale konsep van sy toespraak aan sy vennote in die regering voorgelê het, het bronne aan News24 gesê. Partyleiers het vergader om te verseker dat die toespraak in lyn is met die RNE se prioriteite.

“As die leier van die DA is ek uiters trots om te sê dat ons beleidstellings duidelik in die president se staatsrede was. Op nasionale, provinsiale en plaaslike vlakke is DA-geleide inisiatiewe uitgelig en erken as sleuteldrywers van vooruitgang en hervorming.

“Hierdie erkenning bevestig die belangrike rol wat die DA gespeel het in die vorming van regeringsbeleid oor die hele spektrum van bestuur. Van nasionale regering tot munisipale vlak was ons ministers en verteenwoordigers aan die voorpunt van die hervormings wat nodig is vir ekonomiese groei, werkskepping en dienslewering.”


Steenhuisen sê hy is besonder trots daarop dat die werk van DA-ministers in die president se toespraak uitgelig is. Hy sê dit getuig van die impak wat die party op beleidsontwikkeling gehad het. 

Dit het ingesluit die bespoediging van die private sektor se betrokkenheid by energieproduksie en -transmissie om Eskom se monopolie te verminder en die energiekrisis aan te spreek; prioritisering van infrastruktuurbelegging deur openbare-private vennootskappe; digitale transformasie om Suid-Afrika mededingend te hou; visumhervormings; landbouhervormings; en vroeë kinderopvoeding om te verseker dat elke kind die beste moontlike begin in die lewe kry.

Die GOOD Party se Brett Herron sê hy het gehoop vir meer duidelikheid oor die basiese inkomstetoelaag. “Dit is dus teleurstellend dat hy dit nie bespreek het nie, alhoewel hy bevestig het dat die maatskaplike hulp ’n groot rol in armoedeverligting gespeel het en sal voortduur.


“Ek dink rondom die ekonomiese groeivisie het hy 3% ekonomiese groei as doelwit gestel. En die meeste ekonome het gesê dat ons minstens 5% ekonomiese groei nodig het as ons werkloosheid sinvol gaan verminder. Die teiken is dus te laag,” sê Heron.

Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep, is een van die min RNE-vennote wat van mening is dat dit ’n “teleurstellende toespraak” was. Die UDM se Nqabayomzi Kwankwa sê ook Ramaphosa het ’n “ambisieuse wenslys” voorgehou.

RNE-vennoot en Skoor-voorsitter Songezo Zibi het ook sy eie teleurstelling met Ramaphosa se toespraak uitgespreek. 

Hy sê die begrotingsrede sal deur Aaron Motsoaledi, minister van finansies, gelewer word. Dit sal in werklikheid die eerste aanwyser wees of Ramaphosa se beloftes nagekom kan word.

Talle is dit eens, die sukses van die staatsrede sal afhang van effektiewe implementering.

OFM Nuus mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.