On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

South Africa

Man wat glo reisigers se drome verydel vir nog bedrog aangekeer

───   ZENANDE MPAME 08:48 Sun, 09 Feb 2025

Man wat glo reisigers se drome verydel vir nog bedrog aangekeer | News Article
Francois Swart is aangekeer vir nog bedrog. Foto: AfriForum

Dié vermeende vakansie-swendelaar moet binnekort weer in die hof verskyn nadat hy blykbaar nog vakansiegangers bedrieg het.

Francois Swart (40), besturende direkteur van Priority Escapes, is Vrydag (7/2) buite die Randburgse landdroshof in hegtenis geneem waar hy vir ander ’n bedrogsaak verskyn het.

AfriForum se privatevervolgingseenheid verteenwoordig die klaers in die twee sake waarvoor Swart Vrydag in hegtenis geneem is. Daar is ook twee ander soortgelyke sake teen hom.

“Die inhegtenisneming kom net twee weke nadat AfriForum se privatevervolgingseenheid ’n brief aan die bevelvoerder van die Douglasdale-polisiekantoor gerig het. Hierin het AfriForum sy teleurstelling uitgespreek oor die versuim om op te tree in die twee sake wat in Maart en April verlede jaar aanhangig gemaak is,” sê Barry Bateman, kommunikasiebestuurder van die eenheid.

“Die eenheid verteenwoordig Ruan Kruger en Louis Botha wat duisende rand vir luukse vakansies betaal het, maar nooit die beloofde wit strande en sprankelende blou see gesien het nie.” Vrydag se saak is tot 4 Maart uitgestel en die eenheid sal voortgaan om te verseker dat geregtigheid geskied, sê Bateman.

Swart moet weer op 2 April in die hof verskyn nadat hy Woensdag (29/1) op borgtog van R10 000 in die hof in Palm Ridge vrygelaat is. Hy het hom vroeër aan die Valke in Gauteng oorgegee.

Swart het na bewering vakansiepakkette vir reise na die Maldive aan kliënte verkoop wat dan die geld in Priority Escapes se rekening inbetaal het. Die vakansiegangers moes later hoor die reismaatskappy bestaan nie meer nie en dat hul geld nie terugbetaal sou word nie.

“Na ’n deeglike ondersoek deur die Valke is vasgestel dat Swart na bewering meer as R2,1 miljoen vir sy eie gewin gebruik het,” sê Katlego Mogale, Gautengse Valkewoordvoerder.

Swart het in 2023 sy kliënte ingelig dat sy maatskappy nie sy skuld kan betaal nie.
OFM Nuus/Zenande Mpame dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.