On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

‘Ons dogter sal weet hoe liefdevol haar pa was’ – vrou ná man in VSA sterf

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:43 Wed, 16 Oct 2024

‘Ons dogter sal weet hoe liefdevol haar pa was’ – vrou ná man in VSA sterf | News Article
Anke en Nicolus op hul troudag. Foto verskaf

Sy dood voel steeds onwerklik. Sy is stukkend en gebroke.

Anke van Eeden (31) van George sê sy kry swaar skaars ’n week nadat haar man in Amerika gesterf het, maar nou moet sy op haar ongebore baba konsentreer.

Sy het nog met Nicolus (26) gepraat kort voor hy Saterdag (5/10) op pad huis toe in ’n digte rookwolk gery het. Hy het nog gesê hy sou haar bel wanneer hy by die huis kom.

Nicolus wat die afgelope ses maande in Noord-Dakota gewerk het, het die verkeerde afdraai gevat waarna hy in die rook vasgekeer is. Hy het stilgehou en begin hardloop, maar is deur die rook oorval.

Die weste van Noord-Dakota het verlede naweek onder talle veldbrande deurgeloop toe tienduisende hektaar en verskeie geboue in die slag gebly het.

Anke en Nicolus van Eeden se eersteling word in November gebore. Foto verskaf

Toe Anke haar man op 5 Augustus op Williston se lughawe in Noord-Dakota groet sou sy nooit kon dink dit sou die laaste keer wees wat sy hom sou sien nie. Anke sê sy het vroeër huis toe gekom omdat sy weens haar swangeskap ná sewe maande nie meer mag vlieg nie.

“Hy sou net meer as twee maande daar gewees het voordat hy op 28 Oktober huis toe sou gekom het vir die geboorte van ons dogter,” vertel ’n hartseer Anke aan OFM Nuus . Sy sê Nicolus het in Maart in Amerika gaan werk om hulle ’n finansiële hupstoot te gee voor hul baba se geboorte.

Op die betrokke dag het die boer vir wie Nicolus gewerk het en sy gesin verskeie kere sonder sukses probeer om hom te kontak terwyl die brande gewoed het naby die dorpie Ray, sowat 60 km suid van die Kanadese grens.

‘Hy het geen brandwonde opgedoen nie’

KVLY-TV Fargo het vroeër berig ’n brandbestryder het op Nicolus afgekom. ’n Ambulans is ontbied, maar hy is later in die hospitaal dood. Die patoloog het bevestig Nicolus het aan rookinaseming gesterf – hy het geen brandwonde opgedoen nie.

“Die boer vir wie hy gewerk het, het my pa gebel om die nuus te deel.” Anke het saam met vriende op ’n plaas gekuier toe haar ouers met die tyding daar opdaag.

Anke van Eeden beskryf Nicolus as die liefdevolste man. Foto verskaf

Sy en haar gesin het reeds Saterdag (12/10) ’n roudiens vir Nicolus in George gehou en vriende het Maandag (14/10) Nicolus se as van Amerika na Suid-Afrika gebring.

“Nicolus was die beste mens wat ek ooit geken het. Hy was die liefdevolste, vriendelikste en behulpsaamste man waarvoor ek kon vra. Hy het vir my ’n liefde gewys wat min mense ooit ervaar.

“Sy glimlag was aansteeklik en sy liefde was grensloos. Ek sal ons dogtertjie alles oor hom vertel. Ons sal sy lewe eer en sy nalatenskap sal deur haar voortleef.”

Sy sê Nicolus se mooiste eienskap was dat hy wou seker maak dat die mense vir wie hy lief is oukei is. “Hy wou altyd almal help en seën met alles wat hy kon.”

Anke en Nicolus van Eeden op hul troudag. Foto verskaf

Van Eeden het in 2016 aan die Hoër Landbouskool Oakdale gematrikuleer en op sy dag vir die Vrystaat se o. 19-span en die Vrystaatse XV uitgedraf.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.