On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

South Africa

Tito Mboweni, voormalige finansies-minister, op 65 oorlede

───   08:43 Sun, 13 Oct 2024

Tito Mboweni, voormalige finansies-minister, op 65 oorlede | News Article
President Ramaphosa het gesê hy is “diep hartseer” oor Mboweni se heengaan. Foto: X

Die voormalige minister van finansies en president van die Reserwebank is oorlede.

Tito Mboweni is Saterdagaand in die ouderdom van 65 oorlede ná 'n kort siekbed. Hy was omring deur sy geliefdes, het sy familie gesê. 

Hy het van 1994 tot 1999 as demokratiese Suid-Afrika se eerste minister van arbeid in die kabinet van Nelson Mandela gedien.

Vanaf 1999 het hy vir ’n dekade as president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) gedien. Mboweni het van 2018 tot 2021 as minister van finansies gedien onder leiding van president Cyril Ramaphosa.

Meegevoel word van oor die wêreld heen betoon ná die aankondiging van sy dood. President Ramaphosa het gesê hy is “diep hartseer” oor Mboweni se heengaan en beskryf sy dood as ’n “groot verlies”. “Ons het ’n leier en landgenoot verloor wat ons nasie gedien het as ’n aktivis, ekonomiese beleidsinnoveerder en kampvegter van arbeidsregte.

“As SARB-president en minister van finansies het hy skerp op fiskale dissipline en ekonomiese transformasie gefokus.

“Tito Mboweni het hom in verskillende strategiese rolle in die privaat sektor onderskei en was ’n vlagdraer in globale forums vir ons ekonomie en ontwikkelende ekonomieë in die breë.

Die ANC het Mboweni se lewe beskryf as “ ’n bewys van opoffering, toewyding en onbaatsugtige diens aan die mense van Suid-Afrika”.

“Kameraad Tito sal onthou word nie net vir sy geweldige bydraes tot die ekonomie nie, maar ook vir sy onwrikbare verbintenis met die mense wat hy gedien het. Sy nalatenskap van toewyding, innovasie en diens sal vir die komende geslagte ’n rigtingwyser bly.

“Ons betuig ons innige meegevoel met die Mboweni-familie, ANC-strukture en alle Suid-Afrikaners wat treur oor die verlies van hierdie groot man,” het Mahlengi Bhengu-Motsiri, nasionale woordvoerder van die ANC, gesê.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.