On Now
Weekends 16:00 - 20:00
OFM Decades James
NEXT: 20:00 - 23:59 The Music Man Mix with The Music Man
Listen Live Streams

South Africa

Eskom vier 200 dae sonder beurtkrag; bespaar miljarde se diesel

───   08:02 Sat, 12 Oct 2024

Eskom vier 200 dae sonder beurtkrag; bespaar miljarde se diesel   | News Article
Hierdie prestasie spruit uit die omvattende herstelplan wat in Maart 2023 in werking gestel is. Foto: Argief

Die korrupsie-geteisterde Eskom behaal Sondag 13 Oktober ’n merkwaardige mylpaal van 200 opeenvolgende dae sonder beurtkrag.

Dié tydperk sluit ’n kragonderbrekingsvrye winter van 1 April tot 31 Augustus in.  

Hierdie prestasie spruit uit die omvattende herstelplan wat in Maart 2023 in werking gestel is, tesame met proaktiewe beplande instandhouding wat deur die Nasionale Tesourie se skuldverligtingskema ondersteun word.  

“Die herstelplan – Generation Operational Recovery Plan – lewer voortdurend strukturele verbeterings en doeltreffendheid aan die steenkoolvloot om beurtkrag suksesvol opgeskort te hou en ononderbroke kragtoevoer te verskaf sedert 26 Maart 2024,” lui ’n verklaring wat Eskom Vrydag (11/10) uitgereik het. 

Die mylpaal beklemtoon die verbeterde betroubaarheid en werkverrigting van die kragvoorsiener se opwekkingsvloot en toenemende doeltreffendheid wat jaar-tot-jaar R12,03 miljard aan dieselbesparings aangeteken het.  

“Hierdie ononderbroke kragtoevoer is veral bewerkstellig met ’n aansienlike vermindering in die gebruik van diesel vir oopsiklus-gasturbines (OKGT’s), wat tipies aangewend word om opwekkingskapasiteit tydens spitstye te verhoog.  

“Eskom het jaar-tot-jaar R12,03 miljard se dieselbesparings aangeteken. Uitgawes aan diesel tussen 1 April en 10 Oktober 2024 het R6 miljard beloop om 915,17 GWh te genereer, ongeveer 67% (R12,03 miljard) minder as die R18,03 miljard wat verlede jaar oor dieselfde tydperk bestee is vir 2 946,86 GWh.”  

Intussen het Eskom ook aangekondig dat hy nie verwag dat beurtkrag gedurende die komende somerseisoen geïmplementeer sal word nie.

'Save Your Transformers, Save Lives'-veldtog  

Terwyl beurtkrag opgeskort bly, ondervind Eskom steeds netwerkoorlaaiprobleme in sekere plaaslike gebiede weens onwettige verbindings, vandalisme, meterpeutery, ongemagtigde netwerkbedrywighede, diefstal van netwerktoerusting en die aankoop van elektrisiteit van ongelisensieerde verskaffers.  

Om openbare veiligheidsgevare en die risiko van netwerkoorlading te oorkom, wat kan lei tot lasverminderingsmaatreëls en verlengde onbeplande kragonderbrekings, doen Eskom ’n sterk beroep op kliënte om onwettige verbindings te vermy aangesien dit die hele plaaslike gemeenskap negatief kan beïnvloed. 

Dit is ook noodsaaklik vir kliënte om te verseker dat hulle slegs elektrisiteit van gemagtigde verskaffers koop.  

Eskom doen ’n beroep op die publiek om ’n aktiewe rol te speel in die beveiliging van die integriteit van die kragnetwerk deur enige onwettige aktiwiteite by die Eskom-misdaadlyn (0800 112 722) of via WhatsApp (081 333 3323) aan te meld.  

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.