On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

South Africa

OPGEDATEER: Versekeringsmoorde – saak teen polisievrou uitgestel

───   10:00 Fri, 11 Oct 2024

OPGEDATEER: Versekeringsmoorde – saak teen polisievrou uitgestel | News Article
Polisiesersant op ses aanklagte van moord en sewentien van bedrog aangekeer. Foto verskaf

Die Polokwane-streekhof in Limpopo het die verhoor van die vermeende versekeringsmoordenaar met ’n week uitgestel.

Die ses slagoffers was almal benadeeldes wat aan Rachel Shokane-Kutumela, ’n polisiesersant, bekend was. Na bewering is meer as R10 miljoen in begrafnis- en lewensversekering aan haar uitbetaal.

Die staat het borgtog teengestaan vir dié polisiebeampte van Limpopo wat in die gesig gestaar word deur 19 aanklagte, onder meer ses moorde, dwarsboming van die gereg en bedrog  Die saak is tot Vrydag (18/10) uitgestel. Sy bly in aanhouding.  

OFM Nuus het oorspronklik berig ’n vermeende versekeringsmoordenaar en polisiesersant, wat Donderdagoggend (10/10) in Limpopo in hegtenis geneem is toe sy vir diens aangemeld het, sal na verwagting Vrydag in die hof verskyn.

Daar word beweer dat sy van 2019 tot vanjaar versekeringspolisse uitgeneem het en die ses slagoffers, wat aan haar bekend was, vermoor het. Sy het na bewering tussen R1,5 miljoen en R3 miljoen per slagoffer in haar sak gesteek.

Die geld is glo gebruik om twee Range Rover-sportnutsvoertuie, ’n Toyota Land Cruiser, ’n BMW 3-reeks en ’n Mercedes Benz C-klas kontant te koop.

Nog twee vroue is later Donderdag in verband met die saak in hegtenis geneem. Hulle is na bewering ingespan om die sersant bedrog te help pleeg. Sy het die vroue aangesê om versekeringspolisse op hul ekskêrels te laat uitneem voordat sy hulle vermoor het.

Volgens News24 het die polisievrou (43) aanvanklik haar slagoffers, van wie sommige geestelik of fisiek gestremd was, geneem om begrafnispolisse te koop. “Sodra die dekkings goedgekeur is, sou sy na bewering versekeringsmaatskappye bel, die vier naboots en aansoek doen vir lewensdekking.

“’n Paar maande later sou die slagoffers vermoor word.”

Hulle is óf geskiet óf doodgeslaan. In een geval is ’n slagoffer in ’n hut aan die brand gesteek en ’n ander is geslaan en in ’n dam gegooi.

Sy het ook verseker dat lyke naby die omgewing van die Seshego-polisiestasie gevind word. “Sy het na bewering Seshego-polisiëringsgebied gekies, omdat daardie polisiestasie met baie moordsake te doen het en oorweldig is,” het die bron gesê.

Sommige inwoners in Senwabarwana het hul skok uitgespreek oor haar inhegtenisneming. Sommige sê hulle het vertroue in die polisie verloor, berig die SAUK.

“Ek is sprakeloos, ek is teleurgesteld … dit is baie erg. Ek het nie meer vertroue in die polisiebeamptes van Senwabarwana nie. Ek is baie teleurgesteld. Vir ’n wetstoepasser om dit te doen … onthou dit is die mense wat ons gemeenskappe moet beskerm.”

Genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, het die inhegtenisneming verwelkom. Hy sê die betrokkenheid van “ons eie” by sulke gruwelike misdaad is ’n skande.

“As ’n polisiebeampte word die veiligheid en sekuriteit van gemeenskappe aan jou toevertrou. Dis ’n skreiende skande dat ’n polisiebeampte, wat met só ’n groot verantwoordelikheid toevertrou word, by sulke dade betrokke kan wees. 

“Sy het haar magte misbruik deur diegene wat haar vertrou het, te verseker. Dit moet ’n sterk waarskuwing wees vir alle betrokkenes dat ’n mens nie aan die lang arm van die gereg kan ontsnap nie,” het Masemola gesê.

Die sersant sal na verwagting Vrydag (11/10) voor die Polokwane-streekhof op ses aanklagte van moord en sowat 17 sake van bedrog voorkom.

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.