On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Cosatu-staking Maandag fyn dopgehou vir wetteloosheid

───   12:19 Mon, 07 Oct 2024

Cosatu-staking Maandag fyn dopgehou vir wetteloosheid | News Article
Cosatu staak landwyd weens toenemende werkloosheid en die stygende lewenskoste wat beskryf word as ’n verlammende ekonomie. Foto: The Citizen

“Geen wetteloosheid, versperring van paaie of enige ontwrigting sal geduld word nie.”

Stakende Cosatu-werkers is versoek om Maandag (7/10) vreedsaam en wetsgehoorsaam bymekaar te kom wanneer talle vakbonde aan die sogenaamde Nasionale Dag van Optrede deelneem.

Hulle staak landwyd weens toenemende werkloosheid en die stygende lewenskoste wat beskryf word as ’n verlammende ekonomie. Cosatu sê dit word gekenmerk deur werkloosheid, armoede en ongelykheid.

Die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Natjoints) sal die staking deur sy nasionale koördineringsentrum dophou, sê brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder.

“Natjoints, wat verantwoordelik is vir die polisiëring van groot geleenthede en vername byeenkomste, het al sy hulpbronne gemobiliseer,” sê sy. “Die afdeling werk nou saam met alle wetstoepassingsagentskappe, soos verkeersbeamptes, om stakers se veiligheid te verseker.”

“Geen wetteloosheid, versperring van paaie of enige ontwrigting sal geduld word nie.”

Suid-Afrika se grootste vakverbond wil die soeklig opnuut laat val op jare lange hoë werkloosheid en die ekonomiese krisis. Miljoene mense trek noustrop, wat die land onderwerp aan geweldige maatskaplik-ekonomiese druk, sê Cosatu.

Cosatu-lidvakbonde soos die klere-en-tekstielwerkersunies Sactwu en Saccawu, met hul kleinhandel-, verspreidings- en gasvryheidswerkers, neem aan die nywerheidsoptrede deel.

Dié staking kan ’n sterk boodskap aan die regering oordra, meen die politieke ontleder André Duvenhage. Maar, het hy aan Free State Insider gesê, vakbonde word dikwels daarvan beskuldig dat hulle bydra tot ekonomiese uitdagings omdat hulle beleggings beperk. “Hulle is deel van die probleem pleks van die oplossing.”

Duvenhage meen omdat Cosatu se invloed op regeringsbeleid sedert sy hoogtepunt rondom die eeuwisseling afgeneem het, lê die mag nou meer by lidvakbonde as by die vakverbond as geheel.

Sommige kleiner vakbonde kan hul lede suksesvol mobiliseer, maar die algehele uitwerking van die optrede sal moontlik minder doeltreffend wees as waarvoor Cosatu hoop, voorspel Duvenhage.

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.