On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Gerben
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

South Africa

Jongste dwelmmuil het 110 pakkies uitgeskei; in Kemptonpark-hof verwag

───   12:23 Tue, 01 Oct 2024

Jongste dwelmmuil het 110 pakkies uitgeskei; in Kemptonpark-hof verwag | News Article
Die 110 koeëlvormige pakkies het vermoedelik kokaïen bevat. Foto verskaf

“Die dwelmmuile word dikwels eers ’n sop gegee met middels in om hul kele te verdoof. Die sop is baie olierig en laat die dwelmpakkies dan afgly.”

Die vermeende dwelmsmokkelaar van Suid-Afrika wat Sondag (29/9) by die OR Tambo Internasionale Lughawe (ORTIA) in Johannesburg in hegtenis geneem is, het 110 koeëlvormige pakkies uitgeskei, vermoedelik met kokaïen in. 

Sy is die tweede vrou wat binne ’n week by ORTIA in hegtenis geneem is nadat X-strale dwelmpakkies aan die lig gebring het. Die 21-jarige vrou sal Dinsdag (1/10) in die Kemptonpark-landdroshof verskyn.

Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê dit is meer as die gemiddelde hoeveelheid dwelmpakkies wat muile dra wanneer hulle deur doeanebeamptes onderskep word.

Sy het mense gewaarsku om nie tot sulke uiterstes te gaan en hul lewens te waag nie, aangesien dit noodlottig kan wees. Die polisie is ook bekommerd oor die betrokkenheid van jong vroue by hierdie tipe misdaad.

’n Week gelede het ’n 30-jarige Namibiese vrou 68 dwelmpakkies ingesluk, wat vermoedelik ook kokaïen bevat het.

Op Vrydag 13 September is ’n Nigeriese burger in hegtenis geneem nadat daar gevind is dat hy in besit van kokaïen was wat hy in vliegtuigoorfone versteek het nadat hy van Brasilië aangekom het.

Brigadier Mathe sê dit is die 11de dwelmmuil wat in net twee maande by ORTIA in hegtenis geneem is. Baie slagoffers van mensehandel word gebruik om dwelms oor internasionale grense te vervoer.

Algemeen bekend as dwelmmuile, word die slagoffers gedwing om ballonne of pakkies met onwettige dwelms te sluk en hulle word dan oor grense vervoer. Sodra hulle hul bestemming bereik het, word hierdie ballonne uit die slagoffer se liggaam gehaal.

Die ballonne of pakkies word gemaak deur verskeie lae kondome te gebruik en word dikwels gedwonge aan die slagoffer gevoer. Die handelaars gebruik volgens die Verenigde Nasies ’n spesiale masjien om die kondoom oop te maak en dwelms daarin te gooi. 

‘Dwelmmuile word dikwels eers olierige sop gegee’

Die dwelmmuile word dikwels eers ’n sop gegee met middels om hul kele te verdoof. Die sop is baie olierig en laat die ballonne in hul keel afgly. Die slagoffer se mond kan ook met verdowende middels gespuit word, wat hulle in staat stel om tot 120 ballonne te sluk.

’n Dwelmmuil kan gedwing word om tot een kg onwettige dwelms te sluk en hierdie pynlike prosedure kan lei tot ernstige beserings in die keel. Tydens die reis word hulle medikasie gegee om hul dermaktiwiteite te inhibeer.

Sodra hulle hul bestemming bereik het, word hulle lakseermiddels gevoer en die ballonne gaan deur hul liggame. Hierdie gevaarlike manier om dwelms te vervoer het al tot die dood van persone gelei wanneer ballonne in die liggaam bars. Maagsure kan soms deur die ballonne vreet ’n vinnige dood veroorsaak.

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.