On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Lusikisiki-massaskietery: Deurbraak, inhegtenisnemings moontlik

───   14:40 Mon, 30 Sep 2024

Lusikisiki-massaskietery: Deurbraak, inhegtenisnemings moontlik | News Article
Die slagoffers se name is Maandag bekend gemaak. Foto: Lulamile Feni/Dispatch Live

“Ons sal nie toelaat dat misdadigers seëvier nie.”

Die massaskietery in Lusikisiki in die Oos-Kaap wat die land die naweek geskok het, het die Sinqina-familie byna heeltemal uitgewis. 

Die polisie sê hulle is op die punt om verdagtes in hegtenis te neem ná dié skietery. Altesaam 17 mense is Saterdag (28/9) in die vroeë oggendure in twee afsonderlike huise in die Ngobozana-dorpie in die Oos-Kaap doodgeskiet.

Die oorledenes was besig om voor te berei om na die grafsteenonthullingseremonie van twee familielede te gaan – nóg twee vroue wat verlede jaar in die gebied vermoor is. 

Die slagoffers was familielede en bure wat voorberei het vir ’n tradisionele ritueel wat later daardie dag sou plaasvind. Hulle sou die einde van ’n routydperk vier nadat ’n ma en dogter in dié familie ’n jaar gelede ook vermoor is. Die dodetal het intussen gestyg toe die 18de slagoffer Sondag in die hospitaal aan haar beserings dood is. ’n Twee maande oue baba was een van ’n paar oorlewendes. 

Slagoffers se name bekend

Die Oos-Kaapse polisie het Maandag die amptelike lys met die 18 slagoffers se name bekend gemaak:

  • Thobile Sinqina (37), manlik;
  • Nonkanyiso Dukuza (19), vroulik;
  • Ruth King (21), vroulik;
  • Mandisa Dlokweni (59), vroulik;
  • Samantha Sinqina (26), vroulik;
  • Lungiswa Gawulekana (51), vroulik;
  • Thandeka Mhlaluvele (46), vroulik;
  • mary Sinqina (63), vroulik;
  • Nombuliso Dukuza (32), vroulik;
  •  Mathembisile Mayekiso/Sinqina (64), vroulik;
  • Nobelungu France (59), vroulik;
  • Themi Vimba (41), vroulik;
  • Nomazwi Ndleleni (59), vroulik;
  • Smomoza Sinqina (14), manlik;
  •  Nancy Sinqina (59), vroulik;
  • Dimpho Sinqina (30), vroulik;
  • Thali King Sinqina (26), vroulik; en
  • Sigobodo Gxobela (59), manlik.

Die polisie volg alle leidrade op. Foto verskaf

“Ek kan bevestig dat ons lede alle bewyse van die toneel versamel het. Hulle het onderhoude gevoer met sleutelgetuies en gemeenskapslede. Hulle is hard aan die werk om alle beskikbare inligting te ontleed en hulle volg alle leidrade op,” sê brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder.

“Ons is vol vertroue dat ons binnekort die nodige inhegtenisnemings sal doen. Ons jaag nie ons speurders en ons forensiese spanne aan wat op die toneel was sedert hierdie voorval gebeur het nie. Ons plaas nie onnodige druk op hulle nie want ons wil nie foute hê nie. Ons vermy onwettige inhegtenisnemings,” sê Mathe.

“Maksimum hulpbronne gemobiliseer”

President Cyril Ramaphosa het sy meegevoel aan die families betoon en gesê sy gedagtes is ook by die oorlewendes van die skietvoorvalle wat in twee aanvalle in dieselfde straat plaasgevind het.

Ramaphosa het die families van die oorledenes verseker dat die polisie die maksimum hulpbronne gemobiliseer het om te verseker dat die oortreders aangekeer word.

Senzo Mchunu, minister van polisie, gaan Dinsdag met inwoners praat oor die tragedie. Foto verskaf

’n Span spesialisspeurders en forensiese kenners is na die misdaadtoneel ontplooi om met die ondersoek te help.

“Terwyl ons verenig is in ons hartseer, is ons ook verenig in ons verontwaardiging en veroordeling van hierdie buitensporige misdadige aanranding wat nie ongestraf sal bly nie,” sê Ramaphosa.

Senzo Mchunu, minister van polisie; Cassel Mathale en Polly Boshielo, adjunkministers van polisie, asook genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, sal die families Dinsdag (1/10) besoek en met inwoners praat oor hierdie tragedie.

Die toneel is na die moorde afgesper. Foto verskaf

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het sy doeltreffendheid bewys in die hantering van ewekansige en georganiseerde misdaad en ek is vol vertroue dat die Lusikisiki-saak bygevoeg sal word by die suksesse wat onlangs deur ons polisiediens aangeteken is,” sê Ramaphosa.

“Gemeenskapslede moet dus vry voel om ondersoekers van inligting te voorsien wat die polisie kan help om die aanvallers vas te trek en ’n waterdigte saak voor te berei vir ons howe om te verwerk.

“Ons sal nie toelaat dat misdadigers seëvier nie.”

OFM Nuus cg/dg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.