On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Ondersoek kom ná beweerde korrupsie by kragreus

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:54 Sat, 31 Aug 2024

Ondersoek kom ná beweerde korrupsie by kragreus | News Article

“Dit sal enige onwettige of onbehoorlike gedrag deur Eskom-amptenare, -werknemers, -verskaffers, -diensverskaffers en ander betrokke partye insluit.”

Ondersoek gaan ingestel word na beweerde korrupsie en wanadministrasie by Eskom-kontrakte.

Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum, sê die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) gaan ondersoek instel na beweerde korrupsie en wanadministrasie in nege Eskom-kontrakte.

Die aankondiging van die SOE volg nadat president Cyril Ramaphosa ’n proklamasie onderteken het wat die korrupsiebestrydingseenheid die mag gee om hierdie sake by die kragvoorsiener te ondersoek.

‘Dit word beskou as ’n reusestap om aanspreeklikheid te bevorder’

“AfriForum beskou dit as ’n reusestap om aanspreeklikheid te bevorder, maar die organisasie meen dat hierdie slegs die begin is in ’n groter stryd om korrupsie by die kragvoorsiener die hoof te bied,” sê Mostert.

Volgens Mostert het AfriForum reeds in Julie 2022 ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan Eskom gerig om inligting oor sy steenkool- en dieselkontrakte te bekom. Sy sê die organisasie glo dat Eskom se steenkool- en dieselkontrakte inligting bevat wat moontlik onreëlmatighede en korrupsie by die kragvoorsiener in die soeklig sal plaas.

“Die SOE se ondersoek sal grootliks fokus op die verkryging en kontraktering van steenkool- en steenkooldienste, inligtingstegnologiedienste, sagteware lisensie en ondersteunings-ooreenkomste, sekuriteitsdienste, wanadministrasie van vooruitbetalings en forensiese ondersoekdienste vir steenkool.“

Mostert voeg by dat die SOE ook aangedui het dat hy enige ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose of verkwistende uitgawes wat deur Eskom of die regering aangegaan is, sal ondersoek. “Dit sal enige onwettige of onbehoorlike gedrag deur Eskom-amptenare, -werknemers, -verskaffers, -diensverskaffers en ander betrokke partye insluit.”

Volgens Mostert beklemtoon hierdie  aankondiging die feit dat daar diepgewortelde korrupsie en wanadministrasie by Eskom heers. “Dit maak dit onontkombaar dat Eskom die besonderhede van hierdie kontrakte aan die lig moet bring. Ons sal onverpoos voortgaan om te eis dat hierdie kontrakte heeltemal openbaar gemaak moet word sodat die publiek die omvang van die Eskom-krisis kan sien,” sê Mostert.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.