On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Nolwethu
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

South Africa

AfriForum se sentrale takke blink uit op toekenningsaand

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:15 Wed, 28 Aug 2024

AfriForum se sentrale takke blink uit op toekenningsaand | News Article
Bethlehem-tak. Foto verskaf

“Ons doel was nooit om erkenning te kry nie; ons doen dit vir die liefde vir die saak.”

Drie burgerregteorganisasie-takke van Sentraal-Suid-Afrika het op ’n jaarlikse toekenningsaand uitgeblink.

Sasolburg, Wilgehof (Bloemfontein) en Bethlehem het almal eerbewyse ontvang op AfriForum se driejaarlikse kongres Saterdag (24/8) by ATKV-Klein-Kariba naby Bela-Bela in Limpopo.

Verskeie takke en buurtwagte is vir hul bydraes tot hul gemeenskappe vereer. Sasolburg is as Opkomende Buurtwag van die Jaar aangewys, Wilgehof is vereer as Naasbeste Buurtwag van die Jaar, en Bethlehem is gekroon as Buurtwag van die Jaar.

George-tak. Foto verskaf

“Dis danksy die ondersteuning van die gemeenskap en ondernemings dat die Bethlehem-tak so kon presteer,” sê Christa Ikking, Hoogland-streekskoördineerder. “Ons is opreg dankbaar vir elke AfriForum-lid wat tot hierdie sukses bygedra het.”

Onder die gesogte pryse wat oorhandig is, het Benoni die AfriForum-tak van die Jaar-toekenning gewen. Dié Oos-Randse tak het drie keer per maand skoonmaakprojekte onderneem, die afgelope jaar meer as 30 ton teer gebruik om slaggate te herstel, en 20 asblikke weekliks leeggemaak.

“Hierdie prestasie is ’n geweldige eer vir ons buurtwagstrukture, bestuur en die hele gemeenskap,” sê Jacques Laubscher, Benoni-buurtwagleier. “Dit weerspieël ons harde werk en toewyding.

Benoni-tak. Foto verskaf

“Die ontvangs van hierdie erkenning maak ons nie net trots nie, maar verskaf ook hernude motivering om voort te bou op ons prestasies. Ons pogings om ons gemeenskap te beskerm en te dien, het ’n betekenisvolle verskil gemaak, beide plaaslik en nasionaal.”

AfriForum-takke uit die noordelike, suidelike en sentrale streek het ook in hul onderskeie gebiede meegeding om die Tak van die Jaar-toekenning. Benewens Bethlehem was die ander streekwenners Centurion (noordelike streek) en George (suidelike streek).

‘Vyf werkers behartig daagliks herwinning’

Naboomspruit is aangewys as Landelike Tak van die Jaar nadat lede Mookgophong se padmerke en voetoorgange oorgeverf het, twee noodwaterpunte gevestig het en slaggate maandeliks herstel het.

Die Centurion-tak is ook vereer vir hul suksesvolle volhoubare projek, toegespiits op herwinning met 33 staalherwinningshokke en ’n toegewyde span van vyf werkers wat daagliks herwinning behartig.

Centurion-tak. Foto verskaf

Hulle het reeds amper 100 000 kg herwonne materiaal sorteer en verkoop. Die Lichtenburg-tak het die Bouprojek van die Jaar-prys ontvang vir sy uitgebreide bydraes tot padherstelwerk, waarin 445,8 t teer die afgelope drie jaar benut is. Tydens AfriForum se onlangse #VulDieGat-slaggatprojek het dié tak 29 t teer gebruik om Lichtenburg se paaie te verbeter.

“Ek het die werk wat ons doen nog nooit ligtelik opgeneem nie, maar dis ’n ongelooflike eer om as wenners in hierdie kategorie aangewys te word,” sê Pine Pienaar, Lichtenburg-tak se projekleier. “Ons doel was nooit om erkenning te kry nie; ons doen dit vir die liefde vir die saak.

“Daarom is hierdie toekenning selfs meer spesiaal.” Maar die tak gaan nie nou slaplê nie. “Die harde werk begin nou eers, want alle oë is nou op ons.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.