On Now
Weekends 09:00 - 12:00
The Central SA Top 30 Nolwethu
NEXT: 12:00 - 16:00 Saterdag Siësta with Laurika
Listen Live Streams

South Africa

VF Plus: Alberts moet geld terugbetaal

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:24 Wed, 28 Aug 2024

VF Plus: Alberts moet geld terugbetaal | News Article
Anton Alberts. Foto: VF Plus

“Ná ’n interne ondersoek is beslis Alberts moet die bedrag aan die party terugbetaal om die aangeleentheid op te los.”

’n Gautengse VF Plus-wetgewerlid gaan R101 000 aan die party terugbetaal ná ’n “misverstand” oor die besteding van die geld.

Anton Alberts, ook nasionale voorsitter van die VF Plus, was vroeër vanjaar in die spervuur toe ’n groep ontevrede partylede van Meyerton ’n klag by die polisie ingedien het.

Hulle het hom daarvan beskuldig dat hy ongemagtigde eise vir reiskoste ingedien het wat die koste van ’n persoonlike motorbestuurder insluit, asook die koste van ’n voertuig, wat hy by sy pa, Gideon Alberts, gehuur het. Hy het na bewering ook vir sy troeteldier se veeartsrekeninge geëis.

‘Ná ’n interne ondersoek is beslis Alberts moet die bedrag terugbetaal’

Nadat Alberts in 2019 se algemene verkiesing tot koukusleier van die party in die Gautengse wetgewer verkies is, het die provinsiale VF Plus na bewering R101 000 in sy persoonlike rekening inbetaal toe hy aangevoer het hy ervaar “ouditprobleme” met sy parlementêre rekening.

Die geld is aan hom toegewys as ’n “kieserstoelae”, wat volgens die party se interne reëls gebruik moet word om kiesers te bereik.

Wouter Wessels, nasionale VF Plus-woordvoerder. Foto verskaf

Dié betaling het aan die lig gekom in ’n ondersoek na binnegevegte en ’n geskil met Jaco Mulder, voormalige Gautengse VF Plus-leier. ’n Ouditondersoek is toe gedoen op aandrang van dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

Groenewald het die ouditverslag aan die party se federale dagbestuur oorhandig. “Ná ’n interne ondersoek is beslis Alberts moet die bedrag aan die party terugbetaal om die aangeleentheid op te los,” sê Wouter Wessels, nasionale VF Plus-woordvoerder, en benadruk geen tugverhoor is gehou nie.

Verplig om te bedank?

Volgens Wessels het Alberts ook vrywillig besluit om as voorsitter uit te tree om hom meer op Gauteng toe te spits. Hy sê sy bedanking het niks te make met die interne ondersoek nie.

’n Betroubare bron wat by die verrigtinge betrokke was, sê egter Alberts is as deel van die skikking verplig om as voorsitter te bedank en die volle bedrag binne die volgende week terug te betaal. Alberts tree na verwagting einde Augustus uit as voorsitter.

Kobus Hoffman. Foto Facebook 

Kobus Hoffman, gewese Gautengse wetgewerlid wat deur die VF Plus geskors is, sê hoewel van Alberts verwag word om die R101 000 terug te betaal wat hy uit sy kiesafdelingsfonds gebruik het, is niks gesê oor die geld wat hy by die VF Plus in Gauteng geleen het nie.

“Dit is bittersoet, maar ons het ten minste erkenning van sy skuld oor die eerste deel. Die tweede deel bly egter die ysberg wat onder die oppervlak skuil. Dit is waar die beduidende kwessies lê.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.