On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

‘Uitdagendste hervestiging’ van Suid-Afrikaanse olifant ’n groot sukses

───   ZENANDE MPAME 12:20 Sun, 25 Aug 2024

‘Uitdagendste hervestiging’ van Suid-Afrikaanse olifant ’n groot sukses | News Article
Charley kom by sy nuwe tuiste by die Shambala-wildreservaat aan. Foto: WeWild Africa

“Spanne van dwarsoor die wêreld het bymekaargekom om toesig te hou oor die ingewikkelde operasie om Charley die olifant te verskuif.”

’n Eensame Afrika-olifant van die Nasionale Dieretuin in Pretoria is die afgelope week met ’n aangepaste vragmotor na sy nuwe tuiste in die Shambala-wildreservaat vervoer.

Die wêreld het Maandag (19/8) ’n monumentale oomblik beleef toe Charley (43), wat jare lank die laaste olifant in die dieretuin was, sy eerste tree na vryheid gegee het.

Hy is in 1982 in die Nasionale Hwangepark, Zimbabwe, gebore en is in 1984 gevang en na Suid-Afrika se Brian Boswell-sirkus gestuur, voordat hy op 30 Julie 2001 na die dieretuin oorgeplaas is.

‘Wêreldwye pogings om diere uit ballingskap vry te laat’

“Hierdie stap is die resultaat van uitgebreide beplanning en ’n belangrike mylpaal in wêreldwye pogings om diere uit ballingskap vry te laat,” sê Dereck Milburn, WeWild Africa se besturende direkteur.

“Ons het die beste logistieke en veeartsenykundige spanne van dwarsoor die wêreld saamgestel om Charley se veilige hervestiging by sy nuwe tuiste in Shambala te verseker.

“WeWild Africa het ’n lang geskiedenis in die ondersteuning van hervestigingsprojekte wêreldwyd. Ons is geëerd om deel te wees van Charley se aftredemylpaal, wat dit vir hom moontlik maak om vir die res van sy lewe vrylik in ’n pragtige wildreservaat rond te wandel.”

Dit was ’n reuse-spanpoging om Charley na sy nuwe tuiste te vervoer. Foto: WeWild Africa

Die laaiery het drie uur geduur met die bystand van talle olifantvangkenners en hervestigingspesialiste van WeWild Africa en Conservation Solutions, wat insette gelewer en tegniese vaardighede voorsien het.

“Charley se reis na Shambala het sowat vier ure geneem, waarna hy in ’n spesiaal ontwerpte hok vrygelaat is waar die veeartsenykundige span hom noukeurig monitor. Hy sal mettertyd in ’n groter gebied vrygelaat word soos wat hy aan sy nuwe omgewing gewoond raak,” sê Milburn.

“Ons is bly om te bevestig dit goed gaan met Charley en dat sy vordering om weer ’n ‘wilde’ olifant te word, aan die verwagtinge van die hervestigingspan voldoen.”

OFM Nuus/Zenande Mpame

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.