On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

Geen taksnommer, geen pensioen, sê Jan Taks

───   08:56 Sun, 25 Aug 2024

Geen taksnommer, geen pensioen, sê Jan Taks | News Article
Foto: Company Partners

Lede van pensioenfondse wat van voorneme is om geld uit hul spaarkomponent te onttrek sodra die tweepotstelsel in werking tree, moet geregistreer wees om belasting te betaal.

Die Suid-Afrikaanse Inskomstediens (SAID) waarsku lede van pensioenfondse wat nie vir persoonlike inkomstebelasting geregistreer is nie, dat hul versoeke om ’n belastingaanwysing afgekeur sal word.

Voordat ’n finale bedrag betaal word, sal die pensioenfonds versoek word om ook enige uitstaande skuld namens die SAID af te trek.

Die SAID het in ’n mediaverklaring mense wat nog nie geregistreer het om belasting te betaal nie, aangeraai om dit te doen voordat hulle eise by hul pensioenfondse indien om geld onder die tweepotstelsel te onttrek.

Agterstallige belasting éérs afgetrek

"As ’n persoon nie vir belasting geregistreer is nie, sal die versoek om ’n belastingaanwysing wat van die fonds aan die SAID gestuur is, afgekeur word," lui die verklaring.

SAID het ook gewaarsku dat diegene wat die belastinggaarder geld skuld se agterstallige belasting eers afgetrek sal word, voordat die persoon toegang tot spaargeld uit pensioenfondse kan kry.

Pensioenfondslede wat agterstallige belasting skuld maar reeds reëlings met die SAID getref het om dit af te betaal, sal wel toegang tot die spaargeld kan kry. Persone wat nie by SAID geregistreer is nie, sal nie geld uit hulle pensioenfonds kan onttrek nie.

Tweepotstel van 1 September in werking

Die tweepot-stelsel tree op 1 September 2024 in werking waardeur pensioenfondslede se bydraes in ’n spaarkomponent verdeel word – een keer per belastingjaar toeganklik, en 'n aftree-komponent.

Moneyweb berig dat alle onttrekkings uit die spaarpot teen ’n fondslid se marginale belastingkoers belas sal word, wat aansienlik hoër is as die bestaande belastingkoers vir vroeë-aftreefondsonttrekkings.

Die SAID raai pensioenfondslede wat nog nie vir belasting geregistreer het nie, aan om dit deur die eFiling-kanaal of die SAID se MobiApp te doen.

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.