On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

South Africa

Ekwatoriaal-Guinee: Familie van aangehoude ingenieurs vra regering se hulp

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 15:35 Wed, 21 Aug 2024

Ekwatoriaal-Guinee: Familie van aangehoude ingenieurs vra regering se hulp   | News Article
Frik Potgieter en Peter Huxham. Foto Facebook

“Hulle is onskuldig; hul enigste ‘misdaad’ is om Suid-Afrikaans te wees.”

Die families van die twee ingenieurs wat al langer as 18 maande onregmatig aangehou word, het Woensdag (21/8) ’n parlementsitting bygewoon om te vra vir dringende ingryping. .

Frik Potgieter van George en Peter Huxham van Langebaan word sedert 9 Februarie verlede jaar aangehou in haglike omstandighede in ’n tronk in Ekwatoriaal-Guinee. Die land is aan die weskus van Afrika en omtrent so groot soos Lesotho. 

Op die betrokke dag het Potgieter en Huxham aangemeld by hul hotel in die hoofstad, Malabo, om die volgende oggend terug na Suid-Afrika te vlieg. Hulle was net klaar met ’n werkrotasie van vyf weke vir hul werkgewer, STC Offshore.

‘Die mans hou vol hulle is onskuldig’

Hulle is daardie aand in hegtenis geneem omdat daar glo kokaïen in hul bagasie was. Die mans hou vol hulle is onskuldig. In Junie verlede is hulle skuldig bevind en elk is tronkstraf van twaalf jaar opgelê, ’n boete van $5 miljoen elk, asook ander boetes.

Net twee dae voor dit is Teodoro Nguema Obiang, adunkpresident van Ekwatoriaal-Guinee, in Suid-Afrika gevonnis  en is daar ook beslag gelê op sy luukse seiljag in die Kaapstadse hawe.

Francois Nigrini, woordvoerder van die families, het vroeër aan OFM Nuus gesê hy glo die inhegtenisnemings was ’n poging om Suid-Afrika te dwing om eiendomme prys te gee wat met die adjunkpresident vereenselwig word.

Sonja Potgieter, Frik se vrou, en Kathy McConnachie, Peter se lewensmaat, is Woensdag verwelkom deur Supra Mahumapelo, voorsitter van die portefeuljekomitee oor internasionale betrekkinge en samewerking. “Die DA het voorgestel die komitee hou ’n formele vergadering met die families,” sê Dani Cohen, woordvoerder van Prolog Consulting.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, die minister en die direkteur-generaal is na die parlement genooi om te verduidelik wat die regering gaan doen sodat die twee ingenieurs vrygelaat kan word.

“Ons is bly dat die komitee ingestem het om aandag te skenk aan Frik en Peter se saak,” het hul lewensmaats gesê. “Hulle is onskuldig; hul enigste ‘misdaad’ is om Suid-Afrikaans te wees en op die verkeerde tyd op die verkeerde plek te wees.”’

‘Ons wil weet watter stappe gedoen gaan word’

Hulle beklemtoon die regering moet sy burgers se menseregte beskerm. “Ons wil weet watter stappe gedoen gaan word om Frik en Peter se onmiddellike vrylating te verseker.

“Hoekom was daar geen diplomatieke optrede teen Ekwatoriaal-Guinee sedert die uitspraak nie? Wat word gedoen om gereelde besoeke te verseker en die terugkeer van ons geliefdes te bespoedig? Ons soek antwoorde.”

Hul geliefdes het op 13 Junie ’n petisie vir hul vrylating begin en het tot dusver 11 000 handtekeninge ingesamel.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.