On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

South Africa

Olimpiese Spele: SA polisiebeamptes land in Parys om te help

───   10:07 Thu, 25 Jul 2024

Olimpiese Spele: SA polisiebeamptes land in Parys om te help  | News Article
“Aan ons manne en vroue in blou – sterkte en alle voorspoed in hierdie missie.” Foto: Facebook.

“Die Franse regering dra glo die koste.”

Beamptes van die polisiëringseenheid vir openbare rus en orde het Donderdagoggend (25/7) in Parys aangekom om te help met polisiëring tydens die Olimpiese Spele. 

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het die 15 polisiebeamptes Woensdagaand sterkte toegewens voor hulle uit Johannesburg vertrek het.

Suid-Afrika se polisiediens is die enigste wetstoepassers uit die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap wat deel is van die projek. Dit is ’n gulde geleentheid om vaardighede met betrekking tot skarebeheer en -bestuur op te doen. 

Die Franse regering het die versoek gerig vir verskeie sekuriteitsbeamptes, onder wie SA polisiebeamptes, om tydens die Olimpiese Spele met binnelandse veiligheid te help en ’n veilige geleentheid te verseker. Die Franse regering dra glo die koste.

Die 15 polisiebeamptes, sewe vroue en agt mans, is uit al nege provinsies gekies en spog elkeen met meer as tien jaar se ondervinding in openbare rus en orde.

Masemola sê die geleentheid om lede op ’n wêreldverhoog te ontplooi, is ’n kans om kundigheid en kennis te deel en die polisiediens se skarebeheervaardighede op te skerp.

“Ons openbareordebeamptes was betrokke by die polisiëring van verskeie wêreldklasgeleenthede, insluitend die BRICS-beraad en AGOA, wat sonder voorval en ontwrigting plaasgevind het. Ons is vol vertroue dat hierdie geleentheid lede sal toelaat om terug te kom om vaardighede en kennis met ander lede te deel en oor te dra wat ons sal help om die polisiëring van groot byeenkomste en skares te verbeter.

Die polisiebeamptes is uit al nege provinsies gekies en spog elkeen met meer as tien jaar ondervinding in openbare rus en orde. Foto: Facebook.

“Aan ons manne en vroue in blou, sterkte en alle voorspoed met hierdie sending. Ons vertrou dat julle die land met trots en professionaliteit sal verteenwoordig! Hou aan om die Suid-Afrikaanse en SAPD-vlag hoog te laat wapper,” het hy Woensdagaand gesê.

Hul pligte in Frankryk sal die volgende insluit:

  • Skarebestuur in verskeie gebiede;
  • Patrollering van openbare paaie rondom die Olimpiese geriewe;
  • Die verskaffing van inligting aan besoekers;
  • Patrollering van openbare vervoerspilpunte soos stasies, moltreinstasies, bushaltes en lokale wat gereeld deur toeskouers gebruik word;
  • Ondersteuning van polisiekantore en mobiele ontvangspunte deur besoekers te verwelkom, prosedures in slagofferverklarings te fasiliteer, en vertaalhulp aan Franse polisie en ondersoekers te verskaf.

OFM Nuus cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.