On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

South Africa

VBS-bedrog: AfriForum wil korrupsieklagte teen Malema, Shivambu indien

───   08:02 Sat, 13 Jul 2024

VBS-bedrog: AfriForum wil korrupsieklagte teen Malema, Shivambu indien | News Article
Julius Malema het glo in sy persoonlike hoedanigheid voordeel getrek by dié transaksies. Foto: X/EFF

“Voormalige VBS-voorsitter het EFF-leiers Julius Malema en Floyd Shivambu in 2017 in ’n dakwoonstel in Sandton ontmoet om die betalings te bespreek.”

Die burgerregtegroep AfriForum sê hy het sy prokureurs opdrag gegee om klagte van korrupsie, bedrog en geldwassery teen die EFF-leier Julius Malema en sy adjunk Floyd Shivambu aanhangig te maak.

Die stap kom nadat ’n uitgelekte beëdigde verklaring deur VBS Mutual Bank se voormalige voorsitter, Tshifhiwa Matodzi, uiteengesit het hoe die EFF en sy leiers na bewering voordeel getrek het uit die nou ontbinde bank.

In die beëdigde verklaring het Tshifhiwa Matodzi uiteengesit hoe hy EFF-leiers Julius Malema en Floyd Shivambu in 2017 in ’n dakwoonstel in Sandton ontmoet het om die betalings te bespreek.

“AfriForum het ook vir advokaat Gerrie Nel en sy span by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid versoek om die saak te monitor en om druk op die vervolgingsproses te plaas indien dit blyk dat die Nasionale Vervolgingsgesag voete sleep,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, Vrydag gesê.

“Sou die staat versuim om Malema en Shivambu te vervolg, sal AfriForum private vervolging as ’n alternatief oorweeg,” sê Kriel.

Infografika: X/Daily Maverick

Matodzi het skuldig gepleit op 33 klagte van onder meer korrupsie, diefstal en geldwassery, en voer nou aan dat die EFF sedert 2017 maandelikse donasies en ’n sogenaamde besigheidslening ten bedrae van miljoene rand deur ’n frontmaatskappy, Sgameka Projects, van VBS ontvang het. Dit blyk dat ’n bedrag van R5 miljoen oorspronklik oorbetaal is, waarna maandelikse donasies van R1 miljoen en ’n R4 miljoen-lening gevolg het. Matodzi se verklaring dui daarop dat dié geld as omkoopgeld aan die EFF betaal is, maar dat Malema en Shivambu veral in hul persoonlike hoedanigheid voordeel getrek het by dié transaksies. 

AfriForum voer aan dat Matodzi se verklaring voldoende gronde vir die NVG daarstel om ’n bewaringsbevel op Malema en Shivambu se bates te bekom.

“Die staat se versuim om Malema te vervolg vir sy aandeel in die On Point Engineering-korrupsiesaak het hom klaarblyklik die indruk gegee dat hy onaantasbaar is en dat hy eenvoudig kan voortgaan met sy betrokkenheid by beweerde korrupte aktiwiteite.

“Dit is belangrik dat Malema en Shivambu vervolg word vir die plundering van VBS, om ’n baie duidelike boodskap uit te stuur dat niemand verhewe is bo die wet nie,” het Kriel bygevoeg.

Die EFF moet nog kommentaar lewer oor die bewerings.

Partyleier Julius Malema het egter sy stilte verbreek in ’n plasing op X wat lui dat alle media-navrae na argiewe moet verwys.

Voorheen het die rooi barette enige betrokkenheid by die plundering van die VBS-bank ontken.

OFM Nuus cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.