On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

South Africa

Vermeende vakansie-swendelaar op borgtog vrygelaat

───   ZENANDE MPAME 11:23 Thu, 30 Jan 2025

Vermeende vakansie-swendelaar op borgtog vrygelaat | News Article
Die vermeende vakansie-swendelaar, Francois Swart. Foto: priorityescapes.com

’n Vermeende vakansie-swendelaar moet weer op Woensdag 2 April in die hof verskyn nádat hy op borgtog van R10 000 vrygelaat is.

Francois Swart (40), besturende direkteur van Priority Escapes, het Woensdag (29/1) in die Palm Ridge-landdroshof verskyn nádat hy hom aan die Valke in Gauteng oorgegee het.

Swart het na bewering vakansiepakkette vir reise na die Maledives verkoop aan kliënte, wat die geld in Priority Escapes se rekening inbetaal het. In Augustus 2023 is hy daarvan beskuldig dat hy ’n paartjie van Modimolle (Nylstroom) uit byna R130 000 bedrieg het.

“Die beskuldigde was glo betrokke by bedrieglike aktiwiteite wat verband hou met (reispakkette),” sê Katlego Mogale, Gautengse Valke-woordvoerder. “Ná ’n deeglike ondersoek deur die Valke is vasgestel dat Swart (na bewering) meer as R2,1 miljoen wat inbetaal is, vir eie gewin gebruik het.”


Priority Escapes-kliënte het eers besef dat die reisagentskap nie meer bedryf word nie toe hulle gereed was om met vakansie te vertrek en verneem het dat geen terugbetalings gemaak sou word nie.

Swart was reeds in 2023 in die nuus toe hy kliënte ingelig het sy onderneming kan nie sy skuld betaal nie, wat beteken het dat hulle nie op die buitelandse reis sou kon vertrek waarvoor hulle reeds ten volle betaal het nie. Hy het geweier om te sê of die benadeelde kliënte terugbetalings sou ontvang.

Sy maatskappy, wat in Fourways gesetel was, het intussen sy webtuiste en sosialemediabladsye verwyder.

Die polisie in Limpopo het in Desember daardie jaar ’n lasbrief vir Swart se inhegtenisneming uitgereik nadat hy daarvan beskuldig is dat hy die Modimolle-paartjie bedrieg het.

“Swart het glo talle voornemende vakansiegangers uit honderde duisende rande bedrieg,” sê Limpopo-polisiewoordvoerder Hlulani Mashaba. “Die polisieondersoek duur voort.”

Volgens beweringe het Swart die Modimolle-paartjie, nadat hulle die geld oorbetaal het, van vervalste dokumente voorsien wat hulle vlug- en verblyfbesonderhede bevestig het.

Verskeie ander voornemende vakansiegangers het op die webtuiste Hello Peter beweer dat Priority Escapes hulle met ’n slap riem gevang het. “Ons is in ’n moeilike situasie gelaat toe ons reëlings ’n week voor ons vertrek in duie stort, ten spyte van volledige vooruitbetaling weke tevore.

Verskeie ander voornemende vakansiegangers gekla by Hello Peter oor die vakansie-swendelaar. Foto: hellopeter.com

“Ons het ons vertroue en swaarverdiende geld, R150 000, in Priority Escapes geplaas om ons te help met reisbesprekings,” sê ’n kliënt.

Nog ’n slagoffer het beweer: “Ons is ook deur hierdie maatskappy bedrieg. Ons sou in Oktober 2023 op ons wittebrood gegaan het, maar nadat ons alles ten volle betaal het, het ons besef dat geen besprekings gemaak is vir die lugredery of die oord nie. Ons kyk nou hoe om hierdie maatskappy te dagvaar.”

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.