South Africa
Pick n Pay herroep sekere soorte grondboontjiebotter─── 08:28 Sun, 04 Feb 2024
“Ná interne standaardtoetsing is gevind dat hierdie produkte hoër as gereguleerde vlakke van Aflatoksien het, wat 'n gesondheidsrisiko kan inhou.”
Pick n Pay het drie van sy handelsmerke grondboontjiebotter herroep weens gesondheidsrisiko's.
In ’n verklaring wat Saterdag vrygestel is, sê die kleinhandelaar hy het No Name Smooth Peanut Butter, Eden Smooth Peanut Butter en Eden Crunchy Peanut Butter herroep. Hierdie items word regoor die land verkoop.
Klante wat onlangs hierdie handelsmerke met vervaldatums tussen nou en Julie 2025 gekoop het, word versoek om dit na hul naaste Pick n Pay-winkel terug te neem of te stuur vir ’n volle terugbetaling.
Alle voorraad van hierdie produkte is reeds uit alle winkels landwyd verwyder. Geen ander handelsmerk by Pick n Pay is by die herroeping betrokke nie.
Wat is mikotoksiene en waar kom dit vandaan?
Mikotoksiene word deur swamme gesintetiseer. Daar word gespekuleer dat dit ‘n verdedigingsmeganisme van die swam is, of dat die swam dalk toksiene produseer om die gasheer as voedingsbron te gebruik.
“Die gesondheid en veiligheid van ons kliënte is ons prioriteit. Indien iemand bekommerd is, is hulle baie welkom om hierdie produkte terug te stuur – of dit binne hierdie vervaldatum is of nie, en of produkte oopgemaak is of nie.
“Ná interne standaardtoetsing is gevind dat hierdie produkte hoër as gereguleerde vlakke van Aflatoksien het, wat 'n gesondheidsrisiko kan inhou. Aflatoksien is 'n natuurlike mikotoksien, maar die vlakke wat ons opgespoor het, was hoër as die regulatoriese drempel.
“Ons het die Nasionale Verbruikerskommissie en die Nasionale Departement van Gesondheid, Direktoraat Voedselbeheer, betrek.
“Ons vra ons kliënte om asseblief hul spense en koskaste deur te gaan en seker te maak dat hulle van die betrokke produkte ontslae raak deur dit aan Pick n Pay terug te besorg vir ’n volle terugbetaling.
“Indien daar enige ander navrae is, kan klante die Kliëntedienslyn skakel by 0860 303 030.”