On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

South Africa

‘Sak jul kop in skaamte oor ontsnapte Thabo Bester’

───   09:10 Fri, 14 Apr 2023

‘Sak jul kop in skaamte oor ontsnapte Thabo Bester’ | News Article
PHOTO: Twitter

“Dit is ’n absolute skande, en julle moet jul kop in skaamte laat sak. Almal van julle."

Dit was die mening van Glynnis Breytenbach, DA-LP en woordvoerder vir Justisie, tydens die parlementêre ondersoek na Thabo Bester se ontsnapping uit die Mangaung-gevangenis.

Parlementslede het Donderdag in ‘n 12 uur lange sessie bevraagteken hoekom die publiek nie vroeër ingelig is dat Bester, die veroordeelde verkragter en moordenaar, uit die tronk ontsnap het nie. Regter Edwin Cameron het onthul dat hy in Oktober verlede jaar inligting aan die nuusorganisasie GroundUp gegee het.

Ministers en topamptenare van die Regterlike Inspektoraat van Korrektiewe Dienste (JICS), die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) het Donderdag vrae van LP's in die Parlementêre Komitee oor Justisie en Korrektiewe Dienste beantwoord.

"As Bester 'n ander vrou vermoor het, 'n ander vrou verkrag het, wat sou jy dan gesê het?" wou Breytenbach van die Minister van Polisie, Bheki Cele, weet.

"Ek is nie 'n spekulant nie," was Cele se antwoord, berig News24.

Vermoedens reeds in Oktober 2022 geopper

LP’s van alle politieke partye het die SAPD, DKD en JICS uitgedaag oor hoekom hulle besluit het om nie die publiek van Bester se ontsnapping in te lig toe dit in Oktober 2022 vermoed is nie. Hulle het ook die SAPD en DKD gekritiseer omdat hulle voete gesleep het om die saak te ondersoek.

JICS se inspekterende regter, Edwin Cameron, het aan die komitee gesê dat hy in Oktober verlede jaar inligting aan GroundUp gegee het. Dit was nadat hy 'n brief aan die Minister van Justisie, Ronald Lamola, geskryf het waarin hy hom in kennis gestel het van sy vermoede dat Bester ontsnap het.

Cameron, wat op die direksie van GroundUp dien, sê die inligting wat hy aan GroundUp gegee het, was vir die publiek toeganklik.

Cameron het die werk van twee polisielede, ‘n konstabel Legoa en brig. Ramorena Tsoai, geloof omdat hulle deurslaggewende werk gedoen het om te keer dat Bester se medebeskuldigde, dr. Nandipha Magudumana, die lyk wat in Bester se sel gevind is, veras.

Legoa het Magudumana se herhaalde pogings opgemerk om drie verskillende lyke van die staatslykshuis op te eis, en Tsoai het verseker dat die polisie Magudumana se hooggeregshofaansoek teenstaan om die lyk wat in die sel gevind was, aan haar te gee.

‘G4S gee nie volle samewerking’

Oor die trae vordering van die ondersoek, het Cameron gesê G4S het “nie sy volle samewerking gegee nie en dit moeilik gemaak om die saak te ondersoek”.

G4S het Woensdag aan die komitee gesê hulle het eers in Januarie 2023 'n afskrif van die lykskouingsverslag ontvang.

Cameron het dit betwis en gesê hy het G4S in November formeel hieroor ingelig. "Hulle het lank vooraf geweet, maar hul oë daarvoor gesluit."

‘Niemand wou glo Bester het ontsnap’

Cameron sê die ondersoek is bemoeilik omdat niemand wou glo dat Bester ontsnap het nie. Lamola het later aan die komitee gesê hy moes gaan sit toe Cameron hom van Bester se ontsnapping vertel het – hy kon nie glo so iets kan in Suid-Afrika gebeur nie.

TimesLive berig dat Anthea Ramolobeng, ANC-LP, Cameron uitgevra het oor kontant wat Bester in sy tronksel gehad het. Bester het glo tydens sy aanhouding met dwelms handel gedryf.

“Ek lees dat hy op die dag van die voorval baie geld en sy skootrekenaar op sy bed gehad het,” het Ramolobeng gesê.

Cameron het geantwoord dat G4S-personeel genoem het dat Bester 'n magtige persoon in die Mangaung-gevangenis was.

“Een van die amptenare het aangedui dat Thabo Bester baie geld gemaak het terwyl hy binne die gevangenis was.”

Qubudile Richard Dyantyi, ANC-LP, wou by Cameron weet hoe die G4S-gevangenis in Bloemfontein met ander tronke in die land vergelyk, waarop Cameron geantwoord het “hoewel die infrastruktuur van ‘n beter standaard is, is daar funksionaliteit wat verrot is”. Hy sê dié funksionele agteruitgang het daartoe bygedra dat Bester kon ontsnap.

Terwyl LP’s die polisie geloof het vir die inhegtenisneming van Bester en Magudumana, het hulle ook die polisie gekritiseer vir sy hantering van die saak.

“Ons ondersoek om te arresteer, ons arresteer nie om te ondersoek nie,” was Baile Motswenyane, Vrystaatse polisiekommissaris, se antwoord aan die komitee. Sy sê die ondersoek was moeilik.

Dit het bekend geword dat Magudumana drie lyke van die staatslykshuis probeer opeis het. Eers het sy beweer ‘n lyk was dié van haar pa, die tweede was die broer van 'n vriend, en die derde was haar “gewoontereg-man”.

Yoliswa Yako van die EFF wou weet hoekom Magudumana nie vroeër in hegtenis geneem is toe sy lyke op bedrieglike wyse wou opeis nie. “Julle rol was om ondersoek in te stel. Julle het inligting gehad. Julle het ’n lyk gehad, en tog het julle niks gedoen nie.” Motswenyane het bloot geantwoord dat die ondersoek in 'n gevorderde stadium is.

ACDP-LP Steven Swart het gesê die publiek moes baie vroeër ingelig gewees het dat 'n reeksmoordenaar en -verkragter op vrye voet is. Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het erken dat die polisie die publiek vroeër in kennis moes gestel het.

Lamola vra SA om verskoning

Die Minister van Justisie, Ronald Lamola, het die slagoffers van Bester en die mense van Suid-Afrika om verskoning gevra dat hy ontsnap het.

Op ’n vraag van Janho Engelbrecht, DA-LP, of Lamola gaan bedank, het Lamola ontkennend geantwoord. “Ek het alles gedoen wat ek kon,” het hy volgens IOL gesê.

Lamola sê nadat hy oor Bester se moontlike ontsnapping ingelig is, het die Nasionale Kommissaris van Korrektiewe Dienste, Makgothi Samuel Thobakgale, hom verseker dat die saak ondersoek word.

Op ‘n vraag van Swart aan Thobakgale, waarom die publiek eers in Maart van Bester se ontsnapping ingelig is, het Thobakgale geantwoord dat hy eers op 'n inligtingsessie op 23 Maart van die saak gehoor het.

OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.